Wednesday, 26 April 2017

Oordenking - In die regterkantste baan van die lewe

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

IN DIE REGTERKANTSTE BAAN VAN DIE LEWE

Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou, maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie. (Pred. 11:9)

Ons jaag soms te vinnig agter te veel verkeerde dinge aan. Ons leef ver anderkant die spoedgrens in die regterkantste baan van die lewe. Orals langs die pad is daar bordjies wat ons waarsku om stadiger te leef, maar ons steur ons nie daaraan nie omdat ons altyd nog meer dinge moet hê.

Die Prediker vertel deur die loop van sy boek dat hierdie tipe lewenstyl 'n cul-de-sac, 'n doodloopstraat is. Hy weet, want hyself het vir 'n baie lang tyd in sy eie lewe op hierdie snelweg gelewe en agter die een stuk wind na die ander aangejaag. Tot op 'n dag dat hy die straat-loop-dood­bordjie raakgesien het en hard rem getrap het. Hy het toe besef dat sy hele lewe al die tyd net om homself gedraai het. Hy was so besig dat hy nie meer ander mense se stemme kon boor nie, wat nog te sê God s'n. Daarom het hy van baan verwissel. Of liewers, hy het van roete verander. Hy het nou op God se pad begin reis. Want hy het geweet dat slegs hierdie pad 'n eindbestemming het. Op hierdie pad kan mens nie verdwaal nie, omdat die beste gids ter wêreld Hom hier bevind: die Heilige Gees. Hy sal doodse­ker maak dat jy nie verdwaal nie, maar dat jy veilig by die hemel uitkom.

Leef jy ook vinniger as die spoedgrens? Weet jy, God het jou nie gemaak om so te lewe nie. Want dan het jy nie meer genoeg tyd vir Hom en vir ander mense oor nie. Wil jy nie dan 'n slag stadiger begin lewe nie. Onthou dat jy eendag oor alles aan die Here verslag sal moet doen.


Preek 23 April

Preek 23 April - Ds Eljam - Nuwe mense

Friday, 21 April 2017

Oordenking - Veilig in jou kasteel

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

VEILIG IN JOU EIE KASTEEL

Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, die lewe wat tot niks kom nie… (Pred 9:9)

Op soek na wysheid het die skrywer van die Predikerboek by die een  lewensituasie na die ander 'n draai gaan maak. In hierdie proses het hy 'n hele paar dinge agtergekom, soos dat daar nie allerhande tydelike byvoor­dele in 'n mens se geloof opgesluit lê nie. Geloof is nie 'n versekeringspolis wat jou bewaar teen stampe en stote terwyl dit ongelowiges rondom jou tref nie. Inteendeel, volgens hom kom swaarkry-dinge goeie en slegte mense oor. Hy het ook agtergekom dat hierdie wêreld so ingewikkeld is dat geen mens dit eintlik kan verstaan nie; ook nie hulle wat hulleself so morsdood jaag nie.

Wat staan jou dan te doen in hierdie lewe met al sy geswoeg en gesweet? Wel, volgens die Prediker moet jy jou eie geluk skep. Jy moet die lewe gryp en dit voluit gaan leef. Jy moet dit vol maak met sin en betekenis. Jy moet jou vreugde vind in klein dingetjies soos om 'n glas wyn en 'n stukkie brood saam met jou vriende te geniet. Mens moet die stukkie lewe wat jy hier op aarde gekry het om te leef, voluit lewe. Maar jy moet op die regte plek begin leef, saam met al jou dierbares. Daarom skryf die Prediker ook dat mens se huwelik die een plek op aarde is wat 'n stukkie paradys moet wees. Jy moet die lewe saam met jou man of jou vrou ten volle geniet. Jou huwelik moet jou kasteel, jou veilige vesting teen al die aanslae van die lewe wees. Hier moet jy liefde en warmte ervaar. Hier moet huweliksmaats saam laer trek.


Meneer, Mevrou, as jy die ware lewe in jou werk, of in jou status, of in jou sport soek terwyl jou huwelik soos 'n bouval lyk, dan mis jy die lewe. Dan is jy met klatergoud besig. Volg asseblief die Prediker se raad en bou 'n hoë muur om jou huwelik waaragter jy en jou huweliksmaat saam die Here se seën kan ervaar.

Preek 14,16 April

Preek - 16 April - Ds. Eljam - Die graf is leeg
Preek - 14 April - Goeie Vrydag - Ds. Eljam - Anker vir jou siel

Friday, 7 April 2017

Oordenking - Eenvoud is die vreugde van die lewe

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

EENVOUD IS DIE VREUGDE VAN DIE LEWE

Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met 'n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen. (Pred. 9:7)

Die sanger Jannie du Toit sing 'n liedjie wat handel oor eenvoud. Hy vertel van mense wat geleer het om geluk te vind in die klein dingetjies waarmee hulle hulle besig hou. Dit is húlle wat waarlik vreugde gevind het. Hoe waar is dit nie. Ons jaag voort teen skrikwekkende snelhede op soek na vrede en geluk, menende dat ons dit in al die groot dinge sal vind, soos in duur klere, vakansies, vermaak, sport, en noem maar op. Natuurlik is hierdie dinge nie op sigself verkeerd nie. Maar as ons slegs hierin geluk en vrede wil vind, dan is ons besig om die pot ver mis te sit.

Vreugde lê in eenvoud; in die klein dingetjies rondom ons wat ons so as vanselfsprekend aanvaar, soos die kos wat ons elke dag eet. Dit is wat die skrywer van die boek Prediker sê. Hy het baie lank en ernstig na die sin van die lewe gaan soek en toe tot die gevolgtrekking gekom dat alles 'n gejaag na wind is. Mense jaag hulle morsdood agter allerlei dinge aan, en as hulle op 'n dag hul hand oopmaak, dan kom hulle agter dat hulle slegs maar 'n handvol wind gevang het.

Al die energie wat ons soms spandeer (vermors?) in ons pogings om bo in die lewe uit te kom, is volgens die Prediker nie veel werd nie. Want op die ou end is al hierdie dinge tydelik. Dit bring ook nie blywende geluk nie, want kort op ons hakke jaag baie ander mense ook na die kruin van die lewe toe. En hulle gaan ons binnekort uit die pad probeer stamp as ons te lank daar bo vertoef. Eenvoud is die vreugde van die lewe. En dan raak God ook met jou le­wenstyl tevrede.