Friday, 7 April 2017

Oordenking - Eenvoud is die vreugde van die lewe

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

EENVOUD IS DIE VREUGDE VAN DIE LEWE

Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met 'n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen. (Pred. 9:7)

Die sanger Jannie du Toit sing 'n liedjie wat handel oor eenvoud. Hy vertel van mense wat geleer het om geluk te vind in die klein dingetjies waarmee hulle hulle besig hou. Dit is húlle wat waarlik vreugde gevind het. Hoe waar is dit nie. Ons jaag voort teen skrikwekkende snelhede op soek na vrede en geluk, menende dat ons dit in al die groot dinge sal vind, soos in duur klere, vakansies, vermaak, sport, en noem maar op. Natuurlik is hierdie dinge nie op sigself verkeerd nie. Maar as ons slegs hierin geluk en vrede wil vind, dan is ons besig om die pot ver mis te sit.

Vreugde lê in eenvoud; in die klein dingetjies rondom ons wat ons so as vanselfsprekend aanvaar, soos die kos wat ons elke dag eet. Dit is wat die skrywer van die boek Prediker sê. Hy het baie lank en ernstig na die sin van die lewe gaan soek en toe tot die gevolgtrekking gekom dat alles 'n gejaag na wind is. Mense jaag hulle morsdood agter allerlei dinge aan, en as hulle op 'n dag hul hand oopmaak, dan kom hulle agter dat hulle slegs maar 'n handvol wind gevang het.

Al die energie wat ons soms spandeer (vermors?) in ons pogings om bo in die lewe uit te kom, is volgens die Prediker nie veel werd nie. Want op die ou end is al hierdie dinge tydelik. Dit bring ook nie blywende geluk nie, want kort op ons hakke jaag baie ander mense ook na die kruin van die lewe toe. En hulle gaan ons binnekort uit die pad probeer stamp as ons te lank daar bo vertoef. Eenvoud is die vreugde van die lewe. En dan raak God ook met jou le­wenstyl tevrede.


No comments:

Post a Comment