Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.
VEILIG IN JOU EIE
KASTEEL
Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, die lewe
wat tot niks kom nie… (Pred 9:9)
Op
soek na wysheid het die skrywer van die Predikerboek by die een lewensituasie na die ander 'n draai gaan maak.
In hierdie proses het hy 'n hele paar dinge agtergekom, soos dat daar nie
allerhande tydelike byvoordele in 'n mens se geloof opgesluit lê nie. Geloof
is nie 'n versekeringspolis wat jou bewaar teen stampe en stote terwyl dit
ongelowiges rondom jou tref nie. Inteendeel, volgens hom kom swaarkry-dinge
goeie en slegte mense oor. Hy het ook agtergekom dat hierdie wêreld so
ingewikkeld is dat geen mens dit eintlik kan verstaan nie; ook nie hulle wat
hulleself so morsdood jaag nie.
Wat
staan jou dan te doen in hierdie lewe met al sy geswoeg en gesweet? Wel,
volgens die Prediker moet jy jou eie geluk skep. Jy moet die lewe gryp en dit
voluit gaan leef. Jy moet dit vol maak met sin en betekenis. Jy moet jou
vreugde vind in klein dingetjies soos om 'n glas wyn en 'n stukkie brood saam
met jou vriende te geniet. Mens moet die stukkie lewe wat jy hier op aarde
gekry het om te leef, voluit lewe. Maar jy moet op die regte plek begin leef,
saam met al jou dierbares. Daarom skryf die Prediker ook dat mens se huwelik
die een plek op aarde is wat 'n stukkie paradys moet wees. Jy moet die lewe
saam met jou man of jou vrou ten volle geniet. Jou huwelik moet jou kasteel,
jou veilige vesting teen al die aanslae van die lewe wees. Hier moet jy liefde
en warmte ervaar. Hier moet huweliksmaats saam laer trek.
Meneer,
Mevrou, as jy die ware lewe in jou werk, of in jou status, of in jou sport soek
terwyl jou huwelik soos 'n bouval lyk, dan mis jy die lewe. Dan is jy met
klatergoud besig. Volg asseblief die Prediker se raad en bou 'n hoë muur om jou
huwelik waaragter jy en jou huweliksmaat saam die Here se seën kan ervaar.
No comments:
Post a Comment