Wednesday, 26 April 2017

Oordenking - In die regterkantste baan van die lewe

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

IN DIE REGTERKANTSTE BAAN VAN DIE LEWE

Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou, maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie. (Pred. 11:9)

Ons jaag soms te vinnig agter te veel verkeerde dinge aan. Ons leef ver anderkant die spoedgrens in die regterkantste baan van die lewe. Orals langs die pad is daar bordjies wat ons waarsku om stadiger te leef, maar ons steur ons nie daaraan nie omdat ons altyd nog meer dinge moet hê.

Die Prediker vertel deur die loop van sy boek dat hierdie tipe lewenstyl 'n cul-de-sac, 'n doodloopstraat is. Hy weet, want hyself het vir 'n baie lang tyd in sy eie lewe op hierdie snelweg gelewe en agter die een stuk wind na die ander aangejaag. Tot op 'n dag dat hy die straat-loop-dood­bordjie raakgesien het en hard rem getrap het. Hy het toe besef dat sy hele lewe al die tyd net om homself gedraai het. Hy was so besig dat hy nie meer ander mense se stemme kon boor nie, wat nog te sê God s'n. Daarom het hy van baan verwissel. Of liewers, hy het van roete verander. Hy het nou op God se pad begin reis. Want hy het geweet dat slegs hierdie pad 'n eindbestemming het. Op hierdie pad kan mens nie verdwaal nie, omdat die beste gids ter wêreld Hom hier bevind: die Heilige Gees. Hy sal doodse­ker maak dat jy nie verdwaal nie, maar dat jy veilig by die hemel uitkom.

Leef jy ook vinniger as die spoedgrens? Weet jy, God het jou nie gemaak om so te lewe nie. Want dan het jy nie meer genoeg tyd vir Hom en vir ander mense oor nie. Wil jy nie dan 'n slag stadiger begin lewe nie. Onthou dat jy eendag oor alles aan die Here verslag sal moet doen.


No comments:

Post a Comment