Friday, 26 May 2017

Oordenking - ‘N GESEËNDE DOEN DIE REGTE DINGE AAN ANDER

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

‘N GESEËNDE DOEN DIE REGTE DINGE AAN ANDER

Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid be­wys word. (Matt. 5:7)

In die bergrede gee Jesus aan ons rigtingwysers rakende die soort gedrag wat sal maak dat ons God se seën in ons lewe ervaar. Dit begin by die reg­te optrede teenoor ander mense. Christenskap is nie net 'n verhouding tus­sen ons en God nie. Nee, dit raak ook die verhouding tussen ons en diege­ne rondom ons. Daarom kan ons nie vroom teenoor God lewe en terselfder­tyd maak asof ander mense, en veral hulle met wie ons nie eintlik oor die weg kom nie, glad nie bestaan nie. Nee, ons verhouding met God is altyd vervleg met ons verhouding met ander mense. In hierdie verband gaan die apostel Johannes selfs so ver om in die eerste Johannesbrief te sê dat as ons nie ons naaste liefhet wat ons elke dag kan sien nie, dan kan ons nie sê dat ons wel vir God liefhet wat ons nie kan sien nie.

Jesus vra van ons in Matteus 5:7 om 'n hart te hê wat baie warm vir ander mense klop. In plaas van 'n klipharde hart wat maak dat ons hulle uit ons pad wil lewe, moet ons eerder oop en ontvanklik vir ander wees. Ons moet veral 'n oog vir mense se pyn en seerkry hê sodat ons kan afbuk na hulle toe wanneer hulle langs die lewenspad gestruikel het. Ons moet ook bereid wees om hulle wonde te verbind.

Indien ons barmhartig optree, verseker Jesus ons dat God tevrede met ons is; so tevrede dat Hy eendag ook barmhartig teenoor ons sal optree wanneer ons voor sy troon kom stelling inneem.


Preek 21 Mei - Ds. Eljam - Sola Gratia

Sola Gratia

Friday, 19 May 2017

Preek - 14 Mei - Ds. Hansie - Loof die Lewende Here vir Sy Genade

Preek - Loof die Here vir Sy Genade

Oordenking - 'n Hemelse JA

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

‘N HEMELSE JA

"Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!" (Num. 6:24-26)

God wil graag goeie dinge aan sy kinders gee. Daarom het by in die Ou­Testamentiese tyd aan die priesters opdrag gegee om sy volk te seën wan­neer hulle in die tempel kom offer het. En dit was nie sommer maar net 'n paar leë woorde wat hulle die mense as 'n naskrif moes toevoeg nie. Nee, die priesters moes die volk plegtig verseker van God se intense betrok­kenheid in hulle lewe. Die mense moes baie duidelik hoor dat God hulle nie vergeet het nie, en dat Hy gereed staan om in hulle situasie in te gryp en hulle te red. Hulle moes ook weet dat Hy sy arms wyd oopmaak en hulle omvou met sy liefde en goedheid. Boonop moes hulle ook weet dat Hy na elke opregte gebed luister wat van hulle of na sy troon toe kom, en dit beantwoord.

Die Here se seën is so belangrik dat ons nie kan voortgaan met ons lewe sonder die wete dat sy liefde en sy genade ons vergesel nie. God se ja is immers die hoogtepunt in elkeen van sy kinders se lewe.

Die Here wag op ons gebede. Hy wil graag vir ons ja sê. Hy staan ge­reed om die sluise van die hemel oop te trek en ons te oorlaai met sy seë­ninge. Maar dan moet ons tot sy hemelse troonsaal toetree. Ons moet be­gin bid, en ook reg bid. Dit wat ons vra moet God se goedkeuring wegdra. As ons so bid, staan niks in ons pad nie. Dan kan ons maar ons diepste be­hoeftes voor God uitstort en verwag om sy antwoorde op die regte tyd te ontvang.

God hoor en verhoor. Hy buk selfs laag om mooi te kan hoor wat ons van Hom vra. Dit belowe Hy in die Bybel. Hy is die God wat gereed staan met al sy hemelse seëninge wat Hy aan ons wil gee. Maak dit jou nie ook opgewonde nie?


Friday, 12 May 2017

Oordenking - Ons eet elke dag genadebrood

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

Ons eet elke dag genadebrood

Ek was jonk en ek het oud geword, maar nooit het ek 'n regverdige ver­late gesien of dat sy nageslag brood soek nie. (Ps. 37:25)

Al werk ons ons dag na dag flou om liggaam en siel aan mekaar te hou, is dit God wat op die ou end aan ons die nodige gesondheid en liggaams­kragte skenk om te kan werk. Dit is ook Hy wat al ons talente en aanlegte aan ons skenk sodat ons ons daaglikse brood op 'n eerlike manier kan ver­dien. Alles wat ons besit is sodoende een groot geskenk uit God se hand. Daarom moet ons onthou om gereeld vir Hom dankie te sê vir al die din­ge wat Hy hier en nou so onverdiend aan ons gee.

As begenadigdes hoef ons onsself nie van die oggend tot die aand te vergelyk met die bure oorkant die straat wat meer materiële dinge as ons besit nie. 'n Lewenstyl van dankbaarheid vir die besittings wat ons wel het, al is dit ook hoe gering, pas baie beter by ons. In elk geval is al daardie aardse dinge waaraan ons partykeer so krampagtig vasklou van verbygaande aard. Ons weet mos dat ons dit nie met ons kan saamvat wanneer ons die ewigheid moet instap nie.

Omdat ons mense is wat oor 'n Bybel beskik waarin ongelooflike teksverse soos Psalm 37:25 voorkom, het ons die versekering dat God in al ons behoeftes sal voorsien tot aan die einde van ons lewe. God sê immers hier baie duidelik deur sy kneg Dawid dat Hy ons nooit aan ons eie lot sal oorlaat wat betref dinge soos kos en klere nie. Hy skenk nie maar net aan ons die vermoë om te kan werk nie, maar Hy sorg ook dat ons nooit van die honger sal vergaan nie.


Wat 'n genade dat ons groot God te midde van sy besige program nog die tyd oor het om ons alledaagse behoeftes in ag te neem.

Preek 7 Mei - Nog net 'n klein bietjie vasbyt

Preek 7 Mei - Ds. Eljam - Nog net 'n klein bietjie vasbyt

Friday, 5 May 2017

Preek 30 April

Preek - Ds. Hansie - Kom ons dien die lewende Heer

Oordenking - Ons daaglikse behoeftes

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

ONS DAAGLIKSE BEHOEFTES

Gee ons vandag ons daaglikse brood. (Matt. 6:11)

Omdat baie mense met die idee in hulle kop rondloop dat die Here 'n mens net seën as jy dit met jou oë kan sien en met jou hande daaraan kan vat, het ons al 'n baie vir mekaar gesê dat ons sy seën eerder moet soek in alles wat Hy tot ons redding gedoen het. Die Here se seën is dus nie van gunstige uiterlike omstandighede afhanklik nie. Maar aan die ander kant beteken dit darem ook nie dat God se seën net 'n innerlike ervaring is nie. Inteendeel. God is intens by alle aspekte van ons lewe betrokke. Daarom mag ons ook tot Hom nader wat ons alledaagse behoeftes betref. Trouens, Jesus leer ons in sy voorbeeld-gebed, die Ons Vader, dat ons in­derdaad moet bid dat God in al ons daaglikse behoeftes sal voorsien.

Ons het elke dag van ons lewe kos en klere nodig, asook 'n klomp geld om al ons rekeninge elke maand mee te betaal. Ons peperduur lewe stel sommer baie hoë eise aan ons beursies. Partykeer voel dit of al mens se swaar verdiende geldjies maand na maand in 'n bodemlose put instort. En net wanneer jy op 'n goeie dag so 'n bietjie lig aan die einde van die tonnel begin sien, dan breek jou motor, of een van die waterpype in die huis bars.

Hierdie tydelike dinge gaan gelukkig nie ongemerk by die Here verby nie. Daarom kan en moet ons ook bid dat Hy op so 'n wyse in ons daaglikse behoeftes sal voorsien dat ons elke dag genoeg sal hê om te eet en aan te trek.

Gelowiges wat God se seën in alle fasette van hul lewe wil ervaar, moet natuurlik bereid wees om Hom vir elke tree van die pad te vertrou. Daarom moet ons die vrymoedigheid hê om met ons kleinste behoeftes na die Here toe te gaan.