Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.
Ons eet elke dag
genadebrood
Ek was jonk en ek het oud geword, maar nooit het ek
'n regverdige verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie. (Ps. 37:25)
Al werk ons ons dag na dag flou om liggaam en siel
aan mekaar te hou, is dit God wat op die ou end aan ons die nodige gesondheid
en liggaamskragte skenk om te kan werk. Dit is ook Hy wat al ons talente en
aanlegte aan ons skenk sodat ons ons daaglikse brood op 'n eerlike manier kan
verdien. Alles wat ons besit is sodoende een groot geskenk uit God se hand.
Daarom moet ons onthou om gereeld vir Hom dankie te sê vir al die dinge wat Hy
hier en nou so onverdiend aan ons gee.
As begenadigdes hoef ons
onsself nie van die oggend tot die aand te vergelyk met die bure oorkant die
straat wat meer materiële dinge as ons besit nie. 'n Lewenstyl van dankbaarheid
vir die besittings wat ons wel het, al is dit ook hoe gering, pas baie beter by
ons. In elk geval is al daardie aardse dinge waaraan ons partykeer so
krampagtig vasklou van verbygaande aard. Ons weet mos dat ons dit nie met ons
kan saamvat wanneer ons die ewigheid moet instap nie.
Omdat ons mense is wat oor 'n Bybel beskik waarin
ongelooflike teksverse soos Psalm 37:25 voorkom, het ons die versekering dat
God in al ons behoeftes sal voorsien tot aan die einde van ons lewe. God sê
immers hier baie duidelik deur sy kneg Dawid dat Hy ons nooit aan ons eie lot
sal oorlaat wat betref dinge soos kos en klere nie. Hy skenk nie maar net aan
ons die vermoë om te kan werk nie, maar Hy sorg ook dat ons nooit van die honger
sal vergaan nie.
Wat 'n genade dat ons groot God te midde van sy
besige program nog die tyd oor het om ons alledaagse behoeftes in ag te neem.
No comments:
Post a Comment