Liewe
Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.
‘N GESEËNDE DOEN
DIE REGTE DINGE AAN ANDER
Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys
word. (Matt. 5:7)
In die bergrede gee Jesus aan ons rigtingwysers rakende
die soort gedrag wat sal maak dat ons God se seën in ons lewe ervaar. Dit begin
by die regte optrede teenoor ander mense. Christenskap is nie net 'n
verhouding tussen ons en God nie. Nee, dit raak ook die verhouding tussen ons
en diegene rondom ons. Daarom kan ons nie vroom teenoor God lewe en terselfdertyd
maak asof ander mense, en veral hulle met wie ons nie eintlik oor die weg kom
nie, glad nie bestaan nie. Nee, ons verhouding met God is altyd vervleg met ons
verhouding met ander mense. In hierdie verband gaan die apostel Johannes selfs
so ver om in die eerste Johannesbrief te sê dat as ons nie ons naaste liefhet
wat ons elke dag kan sien nie, dan kan ons nie sê dat ons wel vir God liefhet
wat ons nie kan sien nie.
Jesus vra van ons in Matteus 5:7 om 'n hart te hê wat
baie warm vir ander mense klop. In plaas van 'n klipharde hart wat maak dat ons
hulle uit ons pad wil lewe, moet ons eerder oop en ontvanklik vir ander wees.
Ons moet veral 'n oog vir mense se pyn en seerkry hê sodat ons kan afbuk na
hulle toe wanneer hulle langs die lewenspad gestruikel het. Ons moet ook bereid
wees om hulle wonde te verbind.
Indien
ons barmhartig optree, verseker Jesus ons dat God tevrede met ons is; so
tevrede dat Hy eendag ook barmhartig teenoor ons sal optree wanneer ons voor sy
troon kom stelling inneem.
No comments:
Post a Comment