Friday, 5 May 2017

Oordenking - Ons daaglikse behoeftes

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

ONS DAAGLIKSE BEHOEFTES

Gee ons vandag ons daaglikse brood. (Matt. 6:11)

Omdat baie mense met die idee in hulle kop rondloop dat die Here 'n mens net seën as jy dit met jou oë kan sien en met jou hande daaraan kan vat, het ons al 'n baie vir mekaar gesê dat ons sy seën eerder moet soek in alles wat Hy tot ons redding gedoen het. Die Here se seën is dus nie van gunstige uiterlike omstandighede afhanklik nie. Maar aan die ander kant beteken dit darem ook nie dat God se seën net 'n innerlike ervaring is nie. Inteendeel. God is intens by alle aspekte van ons lewe betrokke. Daarom mag ons ook tot Hom nader wat ons alledaagse behoeftes betref. Trouens, Jesus leer ons in sy voorbeeld-gebed, die Ons Vader, dat ons in­derdaad moet bid dat God in al ons daaglikse behoeftes sal voorsien.

Ons het elke dag van ons lewe kos en klere nodig, asook 'n klomp geld om al ons rekeninge elke maand mee te betaal. Ons peperduur lewe stel sommer baie hoë eise aan ons beursies. Partykeer voel dit of al mens se swaar verdiende geldjies maand na maand in 'n bodemlose put instort. En net wanneer jy op 'n goeie dag so 'n bietjie lig aan die einde van die tonnel begin sien, dan breek jou motor, of een van die waterpype in die huis bars.

Hierdie tydelike dinge gaan gelukkig nie ongemerk by die Here verby nie. Daarom kan en moet ons ook bid dat Hy op so 'n wyse in ons daaglikse behoeftes sal voorsien dat ons elke dag genoeg sal hê om te eet en aan te trek.

Gelowiges wat God se seën in alle fasette van hul lewe wil ervaar, moet natuurlik bereid wees om Hom vir elke tree van die pad te vertrou. Daarom moet ons die vrymoedigheid hê om met ons kleinste behoeftes na die Here toe te gaan.


No comments:

Post a Comment