Friday, 30 June 2017

Oordenking - Om na binne te huil

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

OM NA BINNE TE HUIL

2 Samuel 1;1, 17-27

Een van die dinge wat ek uit my kleintyd goed onthou, is dat 'n bruin vrou eenmaal vir my gesê het dat haar man geen trane het wanneer hy huil nie, want “hy huil na binne”. 'n Mens kan op enige gegewe tyd met 'n klomp mense omgaan en jy sal erens onder hulle enkeles sien wie se oë droog is, maar van wie die gesigsuitdrukking verklap dat hulle na binne huil.

Die Bybel is nie alleen 'n wonderlike boek omdat God Hom daarin ook in sy omgang met mense aan ons openbaar nie, dit is ook 'n wonderlike boek omdat dit ons help met die dinge wat ons so dikwels hulpeloos laat staan. Soos wat om met ons droefheid te maak. Die verhale van die Bybel en die Bybelkarakters gee vir ons woorde waarin ons ons klagtes kan uitspreek. Hulle vertolk ons hartseer op 'n manier waarin  ons onsself en ons pyn kan herken.   

Die 1986-Nobelpryswenner Elie Wiesel vertel in sy outobiografie Night van 'n nag toe hulle as Jode in 'n oorvol trein soos diere van een konsentrasiekamp na 'n ander aangery is. Hy sê skielik het daar naby hom vanuit die pikdonker van die nag die geluid van 'n viool opgeklink. Dit was 'n jong Joodse seuntjie, Juliek, wat 'n sonate van Beethoven gespeel het. Wiesel sê dat hy die musiek nog nooit so suiwer hoor klink het nie. Dit was asof Juliek se siel die boog was. Hy was besig om sy lewe te speel. Sy hele lewe het oor die snare gegly — sy verlore hoop, sy vernietigde verlede en sy uit­gewiste toekoms. Hy het gespeel asof hy nooit weer sou speel nie.

Wiesel skryf dat hy nie weet hoe lank Juliek gespeel het nie, want hy self het van uitputting êrens deur die lied aan die slaap geraak. Toe hy die oggend wakker word, het daar 'n lykie langs hom gelê met 'n stukkende viool in sy hande.


Soms is die Bybel soos Juliek se viool. Dit lê ons siel bloot. Dis 'n won­derlike hulp om 'n mens te leer om na buite te huil.

Thursday, 15 June 2017

Preek - 11 Junie - Ds. Eljam - En as jy lewensmoeg begin raak

Preek 11 Junie

Oordenking - DIE DOODLYN IS NOU OOK DIE DOELLYN

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

DIE DOODLYN IS NOU OOK DIE DOELLYN

Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste,die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk” (Openb 1:17-18).

Die dood regeer met 'n ystersepter oor ons almal se lewe. Dit is skoppens­boer, die een wat die heel laaste lag. So dink die meeste mense. Maar vol­gens die Nuwe Testament het Jesus die dood 'n finale uitklophou op Golgota kom toedien deur binne in sy kloue in te stap en drie dae later lewend aan die ander kant uit te kom. Omdat Hy God is, het Hy sonder veel seremonie oor hierdie magtige vyand getriomfeer.

Jesus se oorwinning hou wonderlike nuus vir ons in. Ons wat Hom ken, mag nou ook saam met Hom deel in sy vernietiging van die heel laas­te vyand. Ons toekoms is veilig; so veilig dat Johannes selfs in Openbaring 14 'n hemelse stem hoor wat vir hom sê om neer te skryf dat mense wat in Christus glo, regtig geseënd is as hulle die dag tot sterwe kom, want dan breek hulle rustyd aan. Dan is hulle klaar met hulle aardse stryd teen die sonde, en dan is dinge soos hartseer en eensaamheid vir altyd verby.

Dit is fantasties om te weet dat God self sê dat gelowiges wat uiteindelik by die dood aankom sommer baie gelukkig is. Die dood is nou ons wenpaal, ons gradeplegtigheid. Hier ontvang ons ons nuwe spierwit feesklere vir die hemelse feesmaal. Terwyl ons hier op aarde treur oor ons geliefdes wat ons aan die dood moet afstaan, is God egter verheug oor al sy kinders wat by Hom in sy hemelse troonsaal aankom. Ons moet daarom leer om deur ons hartseer heen te kyk na Hom wat die mag het om mense wat dood is weer lewend te maak.

Die feit dat ons die Een dien wat die sleutels van die dood en die dode­ryk vashou, moet ons ook met hemelse vreugde vul terwyl ons onderweg is na ons eie wenpaal; na ons woonplek by God.


Friday, 9 June 2017

Preek 4 Junie 2017 Ds. Eljam - Ek is die Brood van die Lewe

Preek - Ek is die Brood van die Lewe

Oordenking - GESEËND IS JY AS JY NIE LANGER ‘N KLOP OP DIE SKOUER WIL HÊ NIE

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

GESEËND IS JY AS JY NIE LANGER ‘N KLOP OP DIE SKOUER WIL HÊ  NIE  

"... as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is sla­we wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen." (Luk. 17:10)

Dit is nou maar eenmaal moeilik om dienaars te wees. Ons is immers selfsugtige wesens wat altyd net die beste vir onsself wil hê. In die geheim dink ons almal dat die heelal eintlik net om ons draai. Daarom vra dit 'n Goddelike ingrype om ons van onsself te verlos. Dit vra dat ons elke dag na die Here sal opkyk om ons te bevry van selfsug en eiegeregtigheid.

Jesus sê in Lukas 17 dat ons moet besef dat om 'n Christen te wees baie meer om die lyf het as om net maar 'n paar godsdienstige dinge te doen. Dit vra dat ons sal besef dat ons die beheer oor ons lewe aan God af­geteken het. Ons is sy slawe. En natuurlik moet ons verstaan wat 'n slaaf is ten einde hierdie woorde van Jesus na behore te verstaan.

In die Bybelse tyd kon ryk mense vir hulleself mense op die markplein gaan koop om hulle te bedien. Sulke mense, wat as slawe bekendgestaan het, het dan die lewenslange eiendom van hul nuwe eienaars geword. Jesus sê dat God vir ons wat in Hom glo op 'n goeie dag op die markplein van die sonde kom koop het. Ons is daarom sy eiendom en moet doen wat Hy van ons vra. Ons verkeer nie in 'n posisie om self die voorwaardes neer te lê oor hoe ons God wil navolg nie. Nee, ons moet Hom op sy voor­waardes volg, of wegbly.


As gelowiges moet ons alles doen wat God van ons vra sonder om eni­ge beloning of 'n klop op die skouer van God of ander te verwag. Ons is immers nie in God se diens om aangeprys te word nie. Nee, ons is sy diensknegte, sy slawe wat dag en nag slegs een doel voor oë het, en dit is om sy wil uit te voer. Daarom moet ons maar ons kroon 'n slag afhaal en weer God se diensknegklere aantrek.