Liewe
Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.
OM NA BINNE TE
HUIL
2
Samuel 1;1, 17-27
Een
van die dinge wat ek uit my kleintyd goed onthou, is dat 'n bruin vrou eenmaal
vir my gesê het dat haar man geen trane het wanneer hy huil nie, want “hy huil
na binne”. 'n Mens kan op enige gegewe tyd met 'n klomp mense omgaan en jy sal
erens onder hulle enkeles sien wie se oë droog is, maar van wie die
gesigsuitdrukking verklap dat hulle na binne huil.
Die
Bybel is nie alleen 'n wonderlike boek omdat God Hom daarin ook in sy omgang
met mense aan ons openbaar nie, dit is ook 'n wonderlike boek omdat dit ons
help met die dinge wat ons so dikwels hulpeloos laat staan. Soos wat om met ons droefheid te maak. Die verhale van
die Bybel en die Bybelkarakters gee vir ons woorde
waarin ons ons klagtes kan uitspreek. Hulle vertolk ons hartseer op 'n
manier waarin ons onsself en ons pyn kan
herken.
Die 1986-Nobelpryswenner
Elie Wiesel vertel in sy outobiografie Night van 'n nag toe hulle as Jode
in 'n oorvol trein soos diere van een konsentrasiekamp na 'n ander aangery is.
Hy sê skielik het daar naby hom vanuit die pikdonker van die nag die geluid van
'n viool opgeklink. Dit was 'n jong Joodse
seuntjie, Juliek, wat 'n sonate van Beethoven gespeel het. Wiesel sê dat hy
die musiek nog nooit so suiwer hoor klink het nie. Dit was asof Juliek se siel
die boog was. Hy was besig om sy lewe te speel. Sy hele lewe het oor die snare
gegly — sy verlore hoop, sy vernietigde verlede en sy uitgewiste toekoms. Hy
het gespeel asof hy nooit weer sou speel nie.
Wiesel skryf dat hy nie
weet hoe lank Juliek gespeel het nie, want hy self het van uitputting êrens
deur die lied aan die slaap geraak. Toe hy die oggend wakker word, het daar 'n
lykie langs hom gelê met 'n stukkende viool in sy hande.
Soms is die Bybel soos
Juliek se viool. Dit lê ons siel bloot. Dis 'n wonderlike hulp om 'n mens te
leer om na buite te huil.
No comments:
Post a Comment