Liewe
Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.
DIE DOODLYN IS NOU
OOK DIE DOELLYN
Toe ek Hom sien,
het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy
regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die
Eerste en die Laaste,die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle
ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk” (Openb 1:17-18).
Die dood regeer met 'n ystersepter oor ons almal se lewe.
Dit is skoppensboer, die een wat die heel laaste lag. So dink die meeste
mense. Maar volgens die Nuwe Testament het Jesus die dood 'n finale uitklophou
op Golgota kom toedien deur binne in sy kloue in te stap en drie dae later
lewend aan die ander kant uit te kom. Omdat Hy God is, het Hy sonder veel
seremonie oor hierdie magtige vyand getriomfeer.
Jesus se oorwinning hou wonderlike nuus vir ons in. Ons
wat Hom ken, mag nou ook saam met Hom deel in sy vernietiging van die heel laaste
vyand. Ons toekoms is veilig; so veilig dat Johannes selfs in Openbaring 14 'n
hemelse stem hoor wat vir hom sê om neer te skryf dat mense wat in Christus
glo, regtig geseënd is as hulle die dag tot sterwe kom, want dan breek hulle
rustyd aan. Dan is hulle klaar met hulle aardse stryd teen die sonde, en dan is
dinge soos hartseer en eensaamheid vir altyd verby.
Dit is fantasties om te weet dat God self sê dat
gelowiges wat uiteindelik by die dood aankom sommer baie gelukkig is. Die dood
is nou ons wenpaal, ons gradeplegtigheid. Hier ontvang ons ons nuwe spierwit
feesklere vir die hemelse feesmaal. Terwyl ons hier op aarde treur oor ons
geliefdes wat ons aan die dood moet afstaan, is God egter verheug oor al sy
kinders wat by Hom in sy hemelse troonsaal aankom. Ons moet daarom leer om deur
ons hartseer heen te kyk na Hom wat die mag het om mense wat dood is weer
lewend te maak.
Die
feit dat ons die Een dien wat die sleutels van die dood en die doderyk vashou,
moet ons ook met hemelse vreugde vul terwyl ons onderweg is na ons eie wenpaal;
na ons woonplek by God.
No comments:
Post a Comment