Liewe
Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.
GESEËND IS JY AS JY
NIE LANGER ‘N KLOP OP DIE SKOUER WIL HÊ
NIE
"... as julle alles gedoen het wat aan julle
opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons
verplig was om te doen." (Luk. 17:10)
Dit is nou maar eenmaal
moeilik om dienaars te wees. Ons is immers selfsugtige wesens wat altyd net die
beste vir onsself wil hê. In die geheim dink ons almal dat die heelal eintlik
net om ons draai. Daarom vra dit 'n Goddelike ingrype om ons van onsself te
verlos. Dit vra dat ons elke dag na die Here sal opkyk om ons te bevry van
selfsug en eiegeregtigheid.
Jesus sê in Lukas 17 dat
ons moet besef dat om 'n Christen te wees baie meer om die lyf het as om net
maar 'n paar godsdienstige dinge te doen. Dit vra dat ons sal besef dat ons die
beheer oor ons lewe aan God afgeteken het. Ons is sy slawe. En natuurlik moet
ons verstaan wat 'n slaaf is ten einde hierdie woorde van Jesus na behore te
verstaan.
In die Bybelse tyd kon ryk
mense vir hulleself mense op die markplein gaan koop om hulle te bedien. Sulke
mense, wat as slawe bekendgestaan het, het dan die lewenslange eiendom van hul
nuwe eienaars geword. Jesus sê dat God vir ons wat in Hom glo op 'n goeie dag
op die markplein van die sonde kom koop het. Ons is daarom sy eiendom en moet
doen wat Hy van ons vra. Ons verkeer nie in 'n posisie om self die voorwaardes
neer te lê oor hoe ons God wil navolg nie. Nee, ons moet Hom op sy voorwaardes
volg, of wegbly.
As gelowiges moet ons alles doen wat God van ons
vra sonder om enige beloning of 'n klop op die skouer van God of ander te
verwag. Ons is immers nie in God se diens om aangeprys te word nie. Nee, ons is
sy diensknegte, sy slawe wat dag en nag slegs een doel voor oë het, en dit is
om sy wil uit te voer. Daarom moet ons maar ons kroon 'n slag afhaal en weer
God se diensknegklere aantrek.
No comments:
Post a Comment