Friday, 16 February 2018

Oordenking - Ontvlugting of geloof

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

ONTVLUGTING OF GELOOF

Ek het gedink: ag, as ek maar vlerke soos 'n duif gehad het, sou ek wegvlieg en 'n woonplek soek (Ps 55:7)

Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg (Ps 55:23)

In hierdie psalm noem die digter twee maniere waarop 'n mens jou probleme kan hanteer. Die wegvliegmetode: om weg te hardloop van jou probleme, of die geloofmetode: om jou probleme onder oë te sien en op die Here te vertrou om jou te help om dit te oorkom.

Jona het probeer wegvlug, maar hom daardeur 'n hele boel ander probleme op die hals gehaal.

Toe Jona egter die weg van geloof volg, het hy uitgevind dat die Here vir hom onderneem op maniere waarvan hy nie eens kon droom nie. Hy het daarmee 'n belangrike lewensles geleer: dat die wat hulle sorge aan die Here oorlaat, hul probleme kan oorkom.


Preek - 11 Februarie - Ds. Hansie - Vlug en wen

Preek - Vlug en wen

Friday, 9 February 2018

Oordenking - 'n Onfeilbare lewensplan

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

'N ONFEILBARE LEWENSPLAN

Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk
(Spr 16:3)

Hy wat misluk in sy beplanning, beplan sy eie mislukking. Elke mens moet 'n plan hê waarvolgens hy sy lewe aanpak. Só 'n lewensplan hoef nie onbuigbaar te wees nie, maar dit moet die rigting aandui waarin jy beweeg. Daarsonder is jou lewe doelloos en onbevredigend.

Dit mag wees dat jy onbekwaam voel om jou toekoms te beplan en dan aanvaar jy dinge maar soos hulle kom. Om met omstandighede en gebeurtenisse saam te dryf in die hoop dat jy sukses sal bereik, lei alleen tot ongeluk. En jy behaal ook nie oornag sukses nie. Nee, die hysbak na sukses is buite werking — jy moet die trappe gebruik.

Om konstruktief te beplan, moet jy dit in samewerking met God doen. Maak seker dat alles wat jy beplan aan die Here se vereistes vol­doen en dat jy jou deur die Heilige Gees laat lei. Dan kan jy met vrymoe­digheid God se seën vra op jou voornemens. Met God se samewerking kan jy jou planne uitvoer en sukses behaal.


Preek - Ds Eljam - Sweet soos bloeddruppels

Preek - Sweet soos bloeddruppels

Friday, 2 February 2018

Oordenking - Hy is altyd by jou

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

HY IS ALTYD BY JOU

En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matt 28:20)

Die lewe vereis soms van ons aanpassings. Een van die moeilikste aan­passings om te maak, is wanneer die kring van bekendes en geliefdes kleiner word namate hulle die een na die ander wegval en jy omring word deur afsydige onbekendes. “Geslagte kom en geslagte gaan, maar die wêreld bly altyd dieselfde” (Pred 1:4).

Jy moet daarteen waak om morbied en bitter te word, of in selfbejam­mering te versink. Om in jou eensaamheid te kan aanpas by 'n nuwe tydvak, vereis van jou groot verdraagsaamheid, veral met die nuwe ge­slag. Gun aan hulle die geleentheid wat jy gehad het, waardeer hul doelgerigtheid, hul eerlike bedoelings en hul ywer vir dit waarin hulle glo.

Versoen jou met die feit dat dit wat was, tot die verlede behoort en alleen van waarde is as dit in die hede dien om die toekoms te besiel. Vertroetel jou mooi herinneringe, maar moenie toelaat dat dit jou aan die verlede vasketting nie.

Daar is tog waardes wat nooit verander nie: geloof, hoop, liefde en bo alles, Jesus Christus, wat altyd dieselfde is, tot in alle ewigheid. In die wete, kry jy die krag om by enige omstandigheid aan te pas en nog te leef tot sy eer.