Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
HY IS ALTYD BY JOU
En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld
(Matt 28:20)
Die lewe vereis soms van ons aanpassings. Een van die moeilikste aanpassings
om te maak, is wanneer die kring van bekendes en geliefdes kleiner word namate
hulle die een na die ander wegval en jy omring word deur afsydige onbekendes. “Geslagte
kom en geslagte gaan, maar die wêreld bly altyd dieselfde” (Pred 1:4).
Jy moet daarteen waak om morbied en bitter te
word, of in selfbejammering te versink. Om in jou eensaamheid te kan aanpas by
'n nuwe tydvak, vereis van jou groot verdraagsaamheid, veral met die nuwe geslag.
Gun aan hulle die geleentheid wat jy gehad het, waardeer hul doelgerigtheid,
hul eerlike bedoelings en hul ywer vir dit waarin hulle glo.
Versoen jou met die feit dat dit wat was, tot die verlede behoort en
alleen van waarde is as dit in die hede dien om die toekoms te besiel.
Vertroetel jou mooi herinneringe, maar moenie toelaat dat dit jou aan die
verlede vasketting nie.
Daar is tog waardes wat nooit verander nie: geloof, hoop, liefde en
bo alles, Jesus Christus, wat altyd dieselfde is, tot in alle ewigheid. In die
wete, kry jy die krag om by enige omstandigheid aan te pas en nog te leef tot
sy eer.
No comments:
Post a Comment