Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Die Vaderhuis
Toe
kom hy tot inkeer en sê: "My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle
het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger." Lukas
15:17
Die gevaar bestaan dat 'n mens die gelykenis
van die verlore seun kan oorvereenvoudig. Dit word 'n verhoogstuk waar jy maar
net 'n toeskouer is. Jy is verstom oor so 'n arrogante klein nikswerd wat sy pa
se goeie bedoelings vertrap. Jy gril behoorlik wanneer hy hom met prostitute en
drinkebroers ophou. En miskien verlekker jy jou oor sy uiteindelike lot wanneer
hy tussen die varke beland. Dit bly 'n ander man se storie. En dan het die
storie vir jou heeltemal betekenisloos geraak. Die storie kry eers waarde
wanneer jy een van die karakters word. En wanneer jy ontdek dat die vaderhuis
en die ver land een en dieselfde plek kan wees, en om die waarheid te sê,
meesal dan ook so is.
In die storie gaan dit oor 'n innerlike
ingesteldheid en die wyse waarop dit in verhoudings uitdrukking vind. 'n Mens
kan binne die veilige grense van die vaderhuis 'n verlore kind wees. As jy met
selfsugtige verwagtinge leef, gedurig soek na bevrediging van natuurlike
drange, niks vir die mense naaste aan jou omgee nie - dan is jy klaar in 'n ver
land. Dit gaan dus nie oor die regte plek nie, maar oor die regte gesindheid.
En ten diepste gaan dit oor liefde vir die vader en nie oor die vader se
bankrekening nie.
Daar is so baie kerkmense wat lank nie meer
tuis voel in die vaderhuis nie. Nog steeds kerkgangers, maar lankal uit pas met
hulle Hemelse Vader. Prostitute is waarskynlik nie hulle probleem nie, maar 'n
gebrek aan 'n innige gemeenskap met die Vader.
No comments:
Post a Comment