Friday, 23 March 2018

Oordenking - Prediker van inkeer en bekering


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

Prediker van inkeer en bekering

Ek het eers vir die mense in Damaskus en in Jerusalem en toe
deur die hele Judea en daarna vir die heidennasies gepreek dat hulle
tot inkeer moet kom en hulle tot God moet bekeer; en dit moet hulle
bewys met dade wat by die bekering pas.
Handelinge 26:20

Paulus se Damaskus-ervaring het sy lewe op 'n nuwe koers geplaas. In plaas van vervolger het hy nou 'n voorloper in die evangeliebediening geword. 'n Mens kan verstaan presies hoe ontnugter en selfs ongelowig die Christene was toe hulle van Paulus se bekering gehoor het. Sê nou dis alles net 'n truuk om toegang tot die Christene se binnekring te kry? Ons is ook maar so. Ons vertrou nie altyd die vrede as ons hoor van 'n uitvaagsel wat tot bekering kom nie. Is dit nie maar sommer net praatjies nie? So asof God nie regtig mense se lewens handomkeer kan verander nie!

Maar by Paulus gaan dit toe nog veel verder as net 'n bekering; hy word 'n apostel, 'n wêreldsendeling by uitnemendheid. En waar het hy begin? Sommer by die wegspringplek, Damaskus. Toe in Jerusalem waar die destydse kerk gesetel was, voorts in Judea onder die Jode en daarna het die wêreld sy gemeente geword.

Wat preek Paulus? Hy roep mense op om tot inkeer te kom en hulle tot God te bekeer. Dit is en bly mos maar die enigste roete na 'n nuwe lewe. So het Paulus mos self op 'n wonderbaarlike manier ontdek. Maar dan voeg hy nog iets by: Dra vrugte wat by die bekering pas. Laat jou lewenswandel bewys lewer van die feit dat jy jou tot God bekeer het.


No comments:

Post a Comment