Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
‘n Gewillige oor
. . . dit moet julle in gedagte hou: elke mens
moet maar te gewillig wees om te luister (Jak
1:19)
'n
Wyse man het gesê: "'n Mens het twee ore en een mond sodat jy twee maal
soveel moet luister as wat jy praat." Die meeste mense vind dit makliker
om te praat as om te luister. Hulle voel verleë in oomblikke van stilte en
probeer dit vul met niksseggende woorde. As ons nie mekaar se stiltes verstaan
nie, sal ons ook nie mekaar se woorde verstaan nie.
Die Skrif leer ons dat daar 'n tyd is om te
praat en 'n tyd om stil te bly. Om die fyn ewewig hiervan te ontdek en toe te
pas, is ware wysheid. Om maar net stil te wees, is nutteloos. Ons moet
konstruktief stil wees en dit beteken om intelligent en begrypend te kan
luister.
Dit geld veral in ons verhouding met God. Gebed is nie 'n
monoloog van my kant nie. Ek moet leer om na God te luister sodat my gebed 'n
opheffende en besielende tweegesprek tussen my en my God word. As jy die vermoë
ontwikkel om in die stilte na God te luister, sal jou innerlike oor sy stem
opvang en jy sal gereeld en met verwagting pleit: "Praat, Here, u dienaar
luister" (1 Sam 3 :10). Sy wil vir jou lewe sal duidelik word en jy sal
meer en meer gevoelig word vir sy stem. Met God in die stilte, hoor 'n mens
wonderlike dinge, as jy maar net gewillig is om te luister.
Here, dankie vir u Heilige Gees wat my leer
om te luister. Laat my u stem herken wanneer ek U in die stilte ontmoet en laat
die luister na U my hoogste vreugde wees.