Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
‘n Heerlike waarheid
Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy
heerlikheid aan julle die
krag sal gee om innerlik sterk te word (Ef 3:16)
Die rykdom wat 'n lewe in God bied, oortref jou wildste
verwagtings. Wanneer jy voel dat jy tot oorlopens toe vervul is met sy liefde,
vrede en krag, krap jy nog maar aan die oppervlakte van die goudaar van sy genade.
Die enigste ding wat jou kan weerhou van 'n ryker
ervaring met God, is jou eie onvermoë om dit te ontvang. Die grootste gawe wat
jy van God kan ontvang is 'n steeds groeiende hunkering na Hom. Dit klink soos
'n teenstelling: as jy God ken, ervaar jy sy volheid, en juis in hierdie
vervulling setel die begeerte om Hom steeds beter en meer intiem te ken. Dit is
wat die Gees van God in jou lewe doen.
Dit
is nie maar net 'n vlietende emosie wat op jou neerdaal wanneer jy godsdienstig
voel nie. Dit is 'n konkrete daad van geloof in die krag van die inwonende Gees
van Christus juis wanneer dit voel asof die lewe dreig om uitmekaar te val.
Jy moet jouself gedurig daaraan herinner: “Christus leef
deur sy Gees in my!” Mettertyd sal jy volkome sekerheid hê en vanuit sy krag
leef. Daar lê jou innerlike krag en sterkte. Loof die Here daarvoor.
Hoe sal ek U ooit genoeg dank, Here, dat u Gees in my kom woon het. Gee
dat ek dit sal laat blyk in die omstandighede waarin ek leef en werk.
No comments:
Post a Comment