Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Selfvertroue
U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse
wese gemaak en hom met aansien en eer
gekroon (Ps 8:6)
Die Bybel leer op baie plekke dat hoogmoed en
verwaandheid sonde is voor God. Maar 'n mens kan ook na die ander kant toe
sondig: jy kan te min van jouself dink. Jy vergelyk jouself so maklik met ander
en dink: Ek is nie so slim nie; ek is nie so sterk nie — of so mooi, so begaafd soos
daardie persoon nie.
Sonder selfvertroue kan geen mens
positief en konstruktief leef nie. Jy kan
nie jou Godgewilde taak uitvoer nie.
Dink maar aan Josua wat die byna
bomenslike taak gekry het om God se volk te lei ná Moses se dood. Hoe sou hy
die volk kon aanvoer as hy hom gedurig met sy voorganger, die imposante Moses,
vergelyk het. Hoe sou hy die volk die beloofde land kon inlei as hy net altyd
gedink het: Ek is nie so 'n groot figuur soos Moses nie. Hy was 'n leier, 'n profeet, 'n Godsman soos daar nog nie voor of
ná hom was nie. Hoe kan ek, Josua, in sy skoene staan?
Maar God het hom gedurig
aangemoedig: Wees jy net sterk en vol moed...
Dit moet vir enige mens rede tot selfvertroue wees — nie
omdat hy dink hy is so besonders nie, maar omdat hy glo dat God self sy taak aan
hom gegee het. Daarmee saam gee Hy ook die krag en die moed en die selfvertroue
om dit uit te voer: "Met u hulp loop ek 'n oormag storm, met my God by my
is geen stadsmuur vir my te hoog nie" (Ps 18 : 30).
Barmhartige Vader, wys my deur u Heilige Gees wat my taak
is en gee my in genade die vertroue om dit tot u eer uit te voer.
No comments:
Post a Comment