Friday, 22 February 2019

Oordenking - Innerlike Krag


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Innerlike krag

Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees (Ef 3 :16-17).

Dit is verstommend om te bemerk hoeveel mense die geestelike ontwik­keling van hulle lewe verwaarloos. Hulle sal oneindig moeite doen om hulle liggame op te bou en hulle verstand te ontwikkel maar die gees totaal verwaarloos. Hulle is onbewus daarvan dat die groot motiverende krag in hulle lewe juis in die gees gesetel is.

'n Kleinlike, gemene mens ken nie die warmte en koestering wat ont­spring uit 'n kennis van God se liefde nie. So loop hy een van die groot­ste ervarings van die lewe mis en ontbeer hy 'n bron van krag en inspira­sie wat deur niks anders geëwenaar kan word nie. Wanneer 'n mens bewus word van God se teenwoordigheid, ondervind jy sy krag en word jy bewus van die rykdom en skoonheid van die lewe self.

As Christus in jou teenwoordig is, is dit onmoontlik om jouself nie beskikbaar te stel vir die invloed van God se Heilige Gees nie. Dit is 'n lewensveranderende ervaring met talryke seëninge. Dan word ons ge­loof 'n praktiese belewenis. Christus leef dan in en deur jou. Soos die loot sy krag uit die wingerdstok put, so is jy gekoppel aan 'n onuitput­like Bron van krag. Hy beheer jou gedagtes, emosies en dade. Jou lewe verkry 'n nuwe dimensie, doelgerigtheid en word bestraal met sy heerlikheid.

Meester, U wat die ware wingerdstok is, laat die krag waarmee U my vervul in my daaglikse lewe tot openbaring kom.

Friday, 15 February 2019

Preek - Ds. Eljam - My genade is genoeg


Oordenking - Wat van môre?


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Wat van môre?

Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing. Hy is my helper en my God (Ps 42:6)

Mense wil graag weet wat in die toekoms gaan gebeur, sodat hulle hulle daarop kan voorberei. Daar is soveel dinge wat die mens vrees in die lewe: ouderdom, eensaamheid, nood, siekte . . . die dood!

Maar as ons kon weet wat in die toekoms op ons wag, sou ons dalk so vreesbevange wees dat ons nie eens in die hede sou kon lewe nie.

God openbaar nie die toekoms aan sy kinders nie, maar Hy leer ons in sy Woord hoe om dit te hanteer.

Omdat God ewig is, is daar by Hom geen verlede, hede of toekoms nie. Geloof is om God onwrikbaar te vertrou met al jou môres. Dit ban kommer uit jou lewe en stel jou in staat om die hede te waardeer en te geniet, in die wete dat die toekoms in sy alvermoënde hand is.

Jy kan in die vertroue leef dat, as jy aan Hom gehoorsaam is, daar 'n konstruktiewe en bevredigende lewe voor jou lê. Jy word verhef bo kommer oor beuselagtighede en nuttelose en negatiewe spekulasie en leef met blye verwagting, gereed vir al die onverdiende seëninge wat God vir sy kinders in die toekoms voorberei het.

Leef in die hede: een dag op 'n keer. Word diep bewus van Christus se lewende teenwoordigheid en jy sal nie vrees nie.

Liefdevolle Here, ek weet dat U die toekoms beheer. Leer my om hierdie geloof prakties uit te leef en met geloof in my hart U die toekoms in te volg. In Jesus Christus se heerlike Naam bid ek dit.

Friday, 8 February 2019

Oordenking - Wat is God se wil in jou lewe


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking

Wat is God se wil in jou lewe

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Rom 12:2)

Dit is maklik om te praat oor die wil van God, maar dit is iets heel anders om sy wil te ken en dit te doen. Sommige toegewyde kinders van die Here het 'n besondere verhouding met die Here en daar is by hulle hoegenaamd geen twyfel oor wat sy wil vir hulle is nie. Ander weer is net so toegewyd, maar dit lyk asof hulle in 'n doolhof van onsekerheid leef oor wat die wil van God vir hulle lewe is.

As jy besig is om te soek na God se wil vir jou, staak vir 'n wyle jou soektog. Bid dat God jou "denke sal vernuwe". Konsentreer jou denke en gemoed op Hom. Jy moet God ken voordat jy sy wil kan ken! Dan eers kan jy sy weg ken en Hom gehoorsaam wees.

Maar bo alles moet jy Hom van harte liefhê. Liefde is die sleutel wat die poort na sy pad vir jou ontsluit. Ontwikkel 'n steeds toenemende liefde vir Hom. Dit gee 'n mens soveel vertroue om te weet dat, hoe groot my liefde vir Hom ook al mag wees, sy liefde vir my altyd groter is.

Wanneer liefde vir die Meester en onwrikbare vertroue in Hom jou denke beheers en jou geestelik sensitief maak vir sy leiding, word sy wil aan jou ontvou.

Wag geduldig en biddend wanneer jy twyfel oor wat God se wil vir jou is. God skenk leiding aan hulle wat nie ongeduldig raak nie.

Getroue Leidsman, deur liefde en vertroue soek ek u heilige en volmaakte wil vir my lewe. Laat u Heilige Gees vryelik in my werk.