Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Innerlike krag
Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan
julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof
in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal
wees (Ef 3 :16-17).
Dit
is verstommend om te bemerk hoeveel mense die geestelike ontwikkeling van
hulle lewe verwaarloos. Hulle sal oneindig moeite doen om hulle liggame op te
bou en hulle verstand te ontwikkel maar die gees totaal verwaarloos. Hulle is
onbewus daarvan dat die groot motiverende krag in hulle lewe juis in die gees
gesetel is.
'n Kleinlike, gemene mens ken nie die warmte en koestering
wat ontspring uit 'n kennis van God se liefde nie. So loop hy een van die
grootste ervarings van die lewe mis en ontbeer hy 'n bron van krag en inspirasie
wat deur niks anders geëwenaar kan word nie. Wanneer 'n mens bewus word van God
se teenwoordigheid, ondervind jy sy krag en word jy bewus van die rykdom en
skoonheid van die lewe self.
As Christus in jou teenwoordig is, is dit onmoontlik om
jouself nie beskikbaar te stel vir die invloed van God se Heilige Gees nie. Dit
is 'n lewensveranderende ervaring met talryke seëninge. Dan word ons geloof 'n
praktiese belewenis. Christus leef dan in en deur jou. Soos die loot sy krag
uit die wingerdstok put, so is jy gekoppel aan 'n onuitputlike Bron van krag.
Hy beheer jou gedagtes, emosies en dade. Jou lewe verkry 'n nuwe dimensie,
doelgerigtheid en word bestraal met sy heerlikheid.
Meester, U wat die ware wingerdstok is, laat die krag waarmee U my
vervul in my daaglikse lewe tot openbaring kom.
No comments:
Post a Comment