Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking
Wat is God se wil
in jou lewe
Julle
moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander
deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van
God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Rom 12:2)
Dit is maklik om te praat oor die wil van God, maar dit
is iets heel anders om sy wil te ken en dit te doen. Sommige toegewyde kinders
van die Here het 'n besondere verhouding met die Here en daar is by hulle
hoegenaamd geen twyfel oor wat sy wil vir hulle is nie. Ander weer is net so
toegewyd, maar dit lyk asof hulle in 'n doolhof van onsekerheid leef oor wat
die wil van God vir hulle lewe is.
As jy
besig is om te soek na God se wil vir jou, staak vir 'n wyle jou soektog. Bid
dat God jou "denke sal vernuwe". Konsentreer jou denke en gemoed op
Hom. Jy moet God ken voordat jy sy wil kan ken! Dan eers kan jy sy weg ken en
Hom gehoorsaam wees.
Maar bo alles moet jy Hom van harte liefhê. Liefde is die
sleutel wat die poort na sy pad vir jou ontsluit. Ontwikkel 'n steeds
toenemende liefde vir Hom. Dit gee 'n mens soveel vertroue om te weet dat, hoe
groot my liefde vir Hom ook al mag wees, sy liefde vir my altyd groter is.
Wanneer
liefde vir die Meester en onwrikbare vertroue in Hom jou denke beheers en jou
geestelik sensitief maak vir sy leiding, word sy wil aan jou ontvou.
Wag
geduldig en biddend wanneer jy twyfel oor wat God se wil vir jou is. God skenk
leiding aan hulle wat nie ongeduldig raak nie.
Getroue
Leidsman, deur liefde en vertroue soek ek u heilige en volmaakte wil vir my
lewe. Laat u Heilige Gees vryelik in my werk.
No comments:
Post a Comment