Liewe
Vyfhoek-gelowige
Lees gerus
hierdie oordenking.
Wat
van môre?
Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied
sing. Hy is my helper en my God (Ps 42:6)
Mense wil graag weet wat in die toekoms gaan
gebeur, sodat hulle hulle daarop kan voorberei. Daar is soveel dinge wat die
mens vrees in die lewe: ouderdom, eensaamheid, nood, siekte . . . die dood!
Maar as ons kon weet wat in die toekoms op ons wag,
sou ons dalk so vreesbevange wees dat ons nie eens in die hede sou kon lewe
nie.
God openbaar nie die toekoms aan sy kinders nie,
maar Hy leer ons in sy Woord hoe om dit te hanteer.
Omdat God ewig is, is daar
by Hom geen verlede, hede of toekoms nie. Geloof is om God onwrikbaar te
vertrou met al jou môres. Dit ban kommer uit jou lewe en stel jou in staat om
die hede te waardeer en te geniet, in die wete dat die toekoms in sy alvermoënde
hand is.
Jy kan in die vertroue leef
dat, as jy aan Hom gehoorsaam is, daar 'n konstruktiewe en bevredigende lewe
voor jou lê. Jy word verhef bo kommer oor beuselagtighede en nuttelose en
negatiewe spekulasie en leef met blye verwagting, gereed vir al die onverdiende
seëninge wat God vir sy kinders in die toekoms voorberei het.
Leef in die hede: een dag op 'n keer. Word diep
bewus van Christus se lewende teenwoordigheid en jy sal nie vrees nie.
Liefdevolle Here, ek weet dat U die toekoms beheer.
Leer my om hierdie geloof prakties uit te leef en met geloof in my hart U die
toekoms in te volg. In Jesus Christus se heerlike Naam bid ek dit.
No comments:
Post a Comment