Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees
gerus hierdie oordenking.
GOD VAN HOOP
Ek is daarvan oortuig
dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat
God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (Rom 8:18)
Dit is heel natuurlik
dat daar droefheid sal wees wanneer die dood 'n familiekring binnedring. Dit is
eg menslik om jou eie hartstogtelik lief te hê en met pyn verlies te ervaar.
Tennyson sê tereg: "But o for the touch of a vanish'd hand, and the sound
of a voice that is still!"
Dit is die genadegawe
van hoop in jou hart wat op so 'n dag jou vrees in vertroue, jou droefheid in
stille vreugde, jou twyfel in sekerheid en jou eensaamheid in heilige
geloofsgemeenskap omskep. "Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander
mense wat geen hoop het nie" (1 Tess 4:13). Hoop is daardie verwagting wat
ons hart met blydskap vul. Dit is die Christen se onwrikbare vertroue in die
ewige goedheid van God. Hoop is een van die drie onsterflikes, met geloof aan
die linkerkant en liefde aan die regterkant (1 Kor 13:13).
Geloof is leeg en liefde betekenisloos sonder
hoop. Dit is die anker waaraan jy kan vashou in enige storm (Heb 6:19).
Hoop gee aan jou 'n onoorwinlike gees.
Wanneer hoop lewe, lewe alle dinge. Hoop sê vir jou dat hierdie lewe slegs die
voorwoord is tot die opwindende boek van die ewige lewe.
As die wêreld vra: "Is jy bang?",
dan antwoord hoop: "Nee! want my Here is daar!"
Ewige God, van wie ek
kom en tot wie ek terugkeer, dankie vir u Woord wat altyd nuwe hoop bring
wanneer storms my bedreig. Versterk my daagliks in die onblusbare hoop wat die
erfdeel van u kinders is.
No comments:
Post a Comment