Liewe
Vyfhoek-gelowige
Lees gerus
hierdie oordenking.
Leef
een dag op ‘n slag
Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom (Ps 90:12)
Gister is 'n herinnering wat ons nooit weer kan terugbring nie; môre is
'n belofte waarvan ons die inhoud nie ken nie. Al wat ons wesenlik besit is vandag.
Oor gister mag ons ons nie bekommer nie. Ons moet
saam met Paulus die dinge wat agter is, vergeet. Gister met sy foute en
bekommernisse, sy mislukkings en teleurstellings, sy droefheid en smart, hoort
nou eenmaal tot die verlede. Dit is vir ewig verby. Om te probeer om in die
verlede te lewe is selfvernietigende dwaasheid.
Oor môre mag ons ons ook nie bekommer nie. Môre is
in die hand van God. Daar is miskien laste, beproewings, droefheid en pyn, maar
wanneer die tyd kom, sal God ons die krag gee om dit te hanteer. Môre sal die
son in glorie verrys — al is dit half verskuil agter onheilswolke. Totdat dit
gebeur, het ons geen reg daarop nie, want dit is ongebore.
Vandag is al wat oorbly. Geen mens kan meer as een
dag op 'n slag hanteer nie. Dit is nie die ervarings van vandag wat mense knak
nie: dit is die selfverwyt en berou, die bitterheid van dinge wat gister gebeur
het of die vrees vir môre wat ons verrinneweer. Wanneer ons die ondraaglike
laste van gister en môre by vandag voeg, vou ons dubbel onder die juk.
Skenk my u genade, o Here, net vir vandag. Ek begeer nie om verder te
sien nie — tree vir tree wil ek op die pad gaan wat U vir my berei het.
No comments:
Post a Comment