Friday, 21 June 2019

Preek 16 Junie - Ds. Eljam - Soos suiwer goud


Oordenking - In die leerskool van geduld


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

IN DIE LEERSKOOL VAN GEDULD

. . . dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here (Klaagl 3:26)

Dit gebeur soms dat mense met God ongeduldig word. Hoe verskriklik sou dit nie wees as dit andersom was nie! Dikwels voel mense, al sou hulle dit nie sê nie, dat hulle geduld met God opraak. As hulle bid en hulle gebede word nie binne 'n vasgestelde tyd beantwoord nie, betwy­fel hulle God se gewilligheid en vermoë om hulle pleitredes te beant­woord. Soms raak hulle so ongeduldig dat hulle God selfs tot verantwoording wil roep.

Om jou eie planne te beraam en dan God se seën daarop af te bid, is om God soos ‘n rubberstempel te gebruik om jou planne te wettig. As jy God se seën wil hê, moet jy sy voorwaardes aanvaar.

As jy ongeduldig word oor die pas waarteen God werk, is dit 'n aan­duiding dat jy dinge op jou manier wil doen. As God jou laat wag op 'n antwoord, is dit moontlik dat Hy besig is om jou 'n les te leer — 'n les wat vir jou geestelike groei noodsaaklik is.

Wanneer jy eers geleer het om jou aan die wil van God te onderwerp, bring dit vervulling van jou persoonlikheid en verryking van jou geesteli­ke karakter mee. As Hy jou soms laat wag op 'n antwoord op jou gebede, wees dankbaar en leer die les wat God besig is om aan jou deur te gee.

Vader van genade, skenk my geduld terwyl U besig is om u wil aan my te openbaar.


Friday, 14 June 2019

Oordenking -Christelike besluitneming


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

CHRISTELIKE BESLUITNEMING

Ek het gesê : Sal 'n man soos ek vlug, iemand soos ek tempel toe gaan om te kan bly lewe? Ek sal nie gaan nie! (Neh 6 :11)

Wanneer jy moeilike besluite moet neem, neig jy om dit uit te stel of te vermy solank jy kan. Hierdie gesindheid bring egter net onsekerheid en selfverwyt. Om 'n lewe van vrede en gemoedsrus te ken, moet jy bid­dend opsien na die Leidsman en die Voleinder van jou geloof en jou beslissings maak. Hoe langer 'n mens dit uitstel, hoe swaarder lê dit op jou gemoed. Dan word die lewe vir jou 'n las en word jy maklik die prooi van terneergedruktheid of depressie.

Wanneer jy 'n belangrike beslissing moet neem, moet jy nie daarvan wegdraai of dit probeer vermy nie. Dit sal nie maar net verdwyn nie. Neem God in jou vertroue en stel dit biddend en gelowig aan Hom. Stel jou gemoed oop vir die werking van die Heilige Gees. Hy sal jou lei om God se wil te ken. Hy sal jou ook krag gee om met Christelike waagmoed die regte besluit te neem en uit te voer.

Daar is 'n tyd om besluite te neem. As dit verspeel word deur twyfel of uitstel, is dit vir altyd verby en die nadelige gevolge kan onuitwisbaar wees. Om na die wil van God in gehoorsaamheid te besluit en te handel, bring vrede in jou gemoed.

Vader, ek kom bespreek met U die deurslaggewende besluite in my lewe en dank U opreg vir die leiding van u Heilige Gees.


Friday, 7 June 2019

Oordenking - Die prys van dissipelskap


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Die prys van dissipelskap

Toe sê Jesus vir sy dissipels: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy
homself verloën, sy kruis dra en My volg" (Matt 16:24)

Christus het nooit gewildheid gesoek nie. Toe die skare Hom wou koning maak, het Hy stilweg verdwyn. Toe 'n talentvolle ryk jongman, sy dienste kom aanbied, het Christus aan hom 'n uitdaging gestel wat hy nie wou aanvaar nie. Hy het bedroef weggedraai van Jesus af. Deur die eeue heen rig Christus aan sy volgelinge die uitdaging van die Waarheid maar nooit het hy ‘n toegewing gemaak om 'n enkele dissipel te oorreed nie.

Of die Meester jou geroep het tot 'n besondere arbeidsveld wat groot opoffering vereis, en of Hy jou geroep en geplaas het in bekende omstandighede waar jy hom moet dien sonder enige opwinding of glans, ­sy vereistes bly dieselfde. Hy vra totale oorgawe en gehoorsaamheid om enigiets te aanvaar wat die toekoms mag inhou. Dit beteken dat jy Hom volkome moet vertrou.

Om jouself oor te gee aan die Here, is nie altyd maklik nie. Die daad van oorgawe is nie 'n eenmalige, emosionele daad nie, maar is 'n toewy­ding van oomblik tot oomblik — 'n hele leeftyd lank. Elkeen wat hierdie uitdaging aanvaar, bely daarmee dat die Here se weg en nie sy eie nie, voorrang sal geniet. Wanneer jy met blymoedigheid jou kruis dra en Christus onvoorwaardelik volg, ontdek jy dat die kruis werklik die in­strument van jou verlossing en groei is.

Ek wil ook my kruis tot u eer dra, Here, sodat ek liggaamlik en geestelik versterk kan word in u diens.


Preek - 2 Junie - Aand _ Ds Hansie - Die opdrag volhard in die geloof


Preek - 2 Junie - Oggend - Ds. Eljam - God laat ons volhard