Friday, 21 June 2019

Oordenking - In die leerskool van geduld


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

IN DIE LEERSKOOL VAN GEDULD

. . . dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here (Klaagl 3:26)

Dit gebeur soms dat mense met God ongeduldig word. Hoe verskriklik sou dit nie wees as dit andersom was nie! Dikwels voel mense, al sou hulle dit nie sê nie, dat hulle geduld met God opraak. As hulle bid en hulle gebede word nie binne 'n vasgestelde tyd beantwoord nie, betwy­fel hulle God se gewilligheid en vermoë om hulle pleitredes te beant­woord. Soms raak hulle so ongeduldig dat hulle God selfs tot verantwoording wil roep.

Om jou eie planne te beraam en dan God se seën daarop af te bid, is om God soos ‘n rubberstempel te gebruik om jou planne te wettig. As jy God se seën wil hê, moet jy sy voorwaardes aanvaar.

As jy ongeduldig word oor die pas waarteen God werk, is dit 'n aan­duiding dat jy dinge op jou manier wil doen. As God jou laat wag op 'n antwoord, is dit moontlik dat Hy besig is om jou 'n les te leer — 'n les wat vir jou geestelike groei noodsaaklik is.

Wanneer jy eers geleer het om jou aan die wil van God te onderwerp, bring dit vervulling van jou persoonlikheid en verryking van jou geesteli­ke karakter mee. As Hy jou soms laat wag op 'n antwoord op jou gebede, wees dankbaar en leer die les wat God besig is om aan jou deur te gee.

Vader van genade, skenk my geduld terwyl U besig is om u wil aan my te openbaar.


No comments:

Post a Comment