Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
CHRISTELIKE
BESLUITNEMING
Ek het gesê : Sal 'n man
soos ek vlug, iemand soos ek tempel toe gaan om te kan bly lewe? Ek sal nie
gaan nie! (Neh 6 :11)
Wanneer jy moeilike besluite moet neem, neig
jy om dit uit te stel of te vermy solank jy kan. Hierdie gesindheid bring egter
net onsekerheid en selfverwyt. Om 'n lewe van vrede en gemoedsrus te ken, moet
jy biddend opsien na die Leidsman en die Voleinder van jou geloof en jou
beslissings maak. Hoe langer 'n mens dit uitstel, hoe swaarder lê dit op jou
gemoed. Dan word die lewe vir jou 'n las en word jy maklik die prooi van
terneergedruktheid of depressie.
Wanneer jy 'n belangrike beslissing moet
neem, moet jy nie daarvan wegdraai of dit probeer vermy nie. Dit sal nie maar
net verdwyn nie. Neem God in jou vertroue en stel dit biddend en gelowig aan Hom.
Stel jou gemoed oop vir die werking van die Heilige Gees. Hy sal jou lei om God
se wil te ken. Hy sal jou ook krag gee om met Christelike waagmoed die regte
besluit te neem en uit te voer.
Daar is 'n tyd om besluite te neem. As dit
verspeel word deur twyfel of uitstel, is dit vir altyd verby en die nadelige
gevolge kan onuitwisbaar wees. Om na die wil van God in gehoorsaamheid te
besluit en te handel, bring vrede in jou gemoed.
Vader, ek kom bespreek
met U die deurslaggewende besluite in my lewe en dank U opreg vir die leiding
van u Heilige Gees.
No comments:
Post a Comment