Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Die prys van dissipelskap
Toe sê Jesus vir sy dissipels: "As iemand
agter My aan wil kom, moet hy
homself verloën, sy kruis dra en My volg" (Matt 16:24)
Christus het nooit gewildheid gesoek nie. Toe die skare
Hom wou koning maak, het Hy stilweg verdwyn. Toe 'n
talentvolle ryk jongman, sy dienste kom aanbied, het Christus aan hom 'n
uitdaging gestel wat hy nie wou aanvaar nie. Hy het bedroef weggedraai van
Jesus af. Deur die eeue heen rig Christus aan sy volgelinge die uitdaging van
die Waarheid maar nooit het hy ‘n toegewing gemaak om 'n enkele dissipel te
oorreed nie.
Of die Meester jou geroep het tot 'n besondere arbeidsveld
wat groot opoffering vereis, en of Hy jou geroep en
geplaas het in bekende omstandighede waar jy hom moet dien sonder enige
opwinding of glans, sy vereistes bly dieselfde. Hy vra totale oorgawe en
gehoorsaamheid om enigiets te aanvaar wat die toekoms mag inhou. Dit beteken
dat jy Hom volkome moet vertrou.
Om jouself oor te gee aan die Here, is nie altyd maklik
nie. Die daad van oorgawe is nie 'n eenmalige, emosionele
daad nie, maar is 'n toewyding van oomblik tot oomblik — 'n hele leeftyd lank.
Elkeen wat hierdie uitdaging aanvaar, bely daarmee dat die Here se weg en nie
sy eie nie, voorrang sal geniet. Wanneer jy met blymoedigheid jou kruis dra en
Christus onvoorwaardelik volg, ontdek jy dat die kruis werklik die instrument
van jou verlossing en groei is.
Ek wil ook my kruis tot u eer dra, Here, sodat ek liggaamlik en geestelik
versterk kan word in u diens.
No comments:
Post a Comment