Friday, 25 October 2019

Oordenking - Om daardie moeilike grens na ander oor te steek

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.


Om daardie moeilike grens na ander oor te steek

So het julle 'n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje. — 1 Tessalonisense 1:7

Ons praat baie oor verhoudings as uitdrukking van God se wil. Dit kan jou dalk laat voel jy skiet tekort, veral as jy meer taak-georiënteerd is as ander mense. Mens-georiënteerde mense kom maklik met ander oor die weg. Dit gebeur spontaan. Maar wat van die wat introverte is en nie so maklik met ander mense sosialiseer nie? Is hulle gedoem tot geestelike mislukking? Nee, genadiglik nie. Daar is darem nie net een bloudruk vir die regte verhoudings nie. Goeie verhoudings is nie gelyk aan hand om die lyf loop met elkeen wat jou pad kruis nie. Dit is nie om elkeen se beste vriend te probeer wees nie. Of om nooit konflik te hê nie. Inteendeel. Verhoudings is om daagliks een belangrike keuse uit te oefen en dit is om na buite, na ander mense toe, te leef. Verhoudings begin met 'n keuse vir openheid. Dit is gelyk aan 'n keuse om sensitief vir mense te wees. Gesonde verhoudings wat Christus tot eer strek en ander dien en opbou, vra 'n doelbewuste keuse om nie soos 'n verlate eiland deur die lewe te gaan nie.

Goeie verhoudings vra om goeie keuses aan my kant. Dit vra dat ek gedurig sal onthou die lewe gaan nie oor myself nie. Ek is geseën om ander te seën. Ek is gered om tot heil van ander te leef. Ek staan in 'n verhouding met Christus wat verder moet uitkring. Ek moet my geestelike radarstelsel elke dag instel op ander mense en hulle raaksien as unieke mense in eie reg en nie as blote objekte nie. Ek moet hulle begin sien as beelddraers van God, selfs al het die sonde hulle bekrap en beskadig. As dit gebeur, verskuif iets binne-in my. Dan gaan my hart oop. So begin die regte verhoudings!

No comments:

Post a Comment