Friday, 10 November 2017

Preek 5 November - Ds Eljam - God gebruik elkeen

Preek - God gebruik elkeen

Oordenking - God is by jou

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

GOD IS BY JOU

Ons het baie duidelik gesien die Here is by jou (Gen. 26:28).

Isak was nie juis 'n held nie. Eintlik was hy doodgewoon, vergeleke met die aartsvaders. Hy het ou putte weer oopge­grawe, hy het goed geboer en sy gesaaides het honderdvoudig opgelewer, sy veetroppe het aangegroei, hy het uit vrees leuens vertel soos sy pa, hy het 'n mooi vrou gehad en sy twee seuns het hom waarskynlik nie as 'n uitblinker-pa beskou nie. Sy vrou het die een seun, Jakob, grootgemaak en die veld het die ander seun, Esau, grootgemaak.
Dus: 'n gemiddelde man met gewone foute. En tog een van die aartsvaders.

Maar doodgewoon soos hy was en met kinders wat vir hom en Rebekka “'n bitter verdriet” was (vgl. Gen. 26:35 OAV), het hy mense met grasie ontvang en was hy eintlik 'n man van vrede. Die hoofman Abimelek gee hom 'n besondere getuigskrif: “Ons het duidelik gesien die Here is by jou.”

Daar was dus iets aan Isak wat mense twee maal na hom laat kyk het, 'n sekere kwaliteit, 'n sekere glans, 'n sekere geregtigheid en 'n sekere teenwoordigheid. Dit het vir hom groot voordele in­gehou: God het hom geseën, ten spyte van al sy teleurstellings en foute, en sy vyande het liefs met hom vrede gesoek omdat hulle kon aanvoel dat hierdie man nie alleen sy stryd stry nie.

En daar staan nêrens dat Isak juis van die Teenwoordigheid bewus was nie. Vir hom was dit natuurlik: God is daar, God word gedien, God word geëer, sonder groot omhaal van vrome woorde of grootse geloofsuitsprake soos wat sy pa gedoen het.

Soms kry 'n mens die indruk uit die Bybel dat God juis van “gewone” mense hou, mense met hul swakheid, gewoonheid en soms ook oomblikke van buitengewone grootsheid. Ons hoef nie grootse geloofsdade to verrig nie. Ons kan maar gewoon wees, want dis merkwaardig hoe God gewone mense gebruik en by hulle is.


Friday, 3 November 2017

Oordenking - Gaan in

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

GAAN IN

Gaan in die ark, jy en jou hele huisgesin (Gen. 7: I , OAV).

Vreemd, ten spyte van mense soos Henog en ten spyte van die feit dat die mense die Here se Naam al van vroeg begin aanroep het, het die verwydering tussen God en sy mense, sy aar­de, die werk van sy hande, onoorbrugbaar geword. Van die “dit was goed” wat God tydens die skepping verbly het, was nader­hand min oor. Die skeppingsprosesse en die verhoudings tussen mense en natuur en God was totaal van balans.

Die groot verwoesting van die vloed sou as 'n noodwendigheid kom. Die beeld van God in die mens het vervaag. Maar daar was nog mense, soos Noag, wat Hom wou dien. En vir hulle bied die Here besondere beskerming aan: “Gaan in die ark in!”

Dan kan die vloed maar kom. Of die ark soos in die prentjies van die Kinderbybel gelyk het (kompleet met 'n skoorsteentjie), of 'n spesiale toestand van bewaring was ('n tipe ark-verhaal is in feitlik alle beskawingsoorlewerings te vind) - die hele vertelling verduidelik bloot dat God se mense in God se beskerming moet leef.

'n Mens weet nie of vandag se wêreld met al sy tegnologie en wondere “beter” of “slegter” is as die een waaruit die Noag­verhaal dateer nie. Ons gaan elke dag 'n vloed van moontlike be­dreigings en gevare tegemoet. Ons beleef feitlik elke dag groter of kleiner storms in ons gemoed of waar ons ook al kom. Ons reken soms die son sal nie weer skyn nie, die waters sal bly styg en in die skuimende vloed wat ons die moderne lewe noem, sal van die groot boomstompe wat verbydryf ons tref.

Met dit in gedagte sê God vir ons ook: “Gaan in die ark in!”  Wanneer jy jou oë sluit of opkyk na God om.te bid, gaan jy in die ark in. Wanneer jy die Here om hulp vra in die besige verkeer, gaan jy in die ark in terwyl jy jou oë op die pad hou. Wanneer jou kind skool toe gaan en jy kan nie oral by wees vir raad en bewaring nie, en jy glo God sal bewaar, gaan julle in die ark in.


En sou jou ark deur reusebranders getref word, sal dit nie kan­tel nie. Mense wat op God vertrou, is veilig in sy beskerming.

Friday, 27 October 2017

Oordenking - met God

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

MET GOD

En Henog het met God gewandel (Gen. 5:24, OAV).

Iemand vertel van ‘n persoon wat hom telkens herinner aan sy boesemvriend van sy studentejare wat vroeg oorlede is. “As ek jou sien,” sê hy dan, “dink ek aan Jan. Waar jy geloop het, het Jan geloop, en waar Jan geloop het, was jy saam. Altyd saam.”

Dit was so: hulle het in dieselfde dinge belang gestel, oor die­selfde dinge geredeneer, dieselfde vakke geloop, dieselfde ont­spanning geniet, vir dieselfde grappies gelag. Wanneer hulle van mekaar of weg was, sou hulle skielik die gevoel kry wanneer iets met die ander nie reg was nie. Hulle het ook soms hulle uitvalle ge­had, maar dit altyd met 'n onmiddellike begrip en humor weer herstel.

Henog wat “met God gewandel” het, of soos die ander verta­ling minder digterlik sê, “naby God geleef” het, was eintlik God se boesemvriend vir sy lang aardse lewe. Waar Henog was in gedagte, emosies, gees, fisieke teenwoordigheid, was God. En menslik gesproke waar God, die groot Teenwoordigheid, was, was Henog.

Dis 'n grootse, mistieke saamwees van 'n liefdevolle Skepper en 'n geliefde mens. Henog het dalk op merkwaardige wyse meer as ander iets oorgehou van die bewussyn van God wat hy voor sy geboorte ervaar het, iewers in die ewige gedagtes van die Almagtige. Ons almal word met hierdie bewussyn gebore, maar dit vervaag soms heel gou.

Van Henog se geskiedenis word min vertel, behalwe dat hy met God “gewandel” het. Maar wat 'n geskiedenis is dit nie!

God was gedurig in Henog se geselskap. God, as ons dit so wil hê en daarom vra, is gedurig in ons geselskap. Hy luister, Hy hoor, Hy help, en ons hoop Hy geniet ons teenwoordigheid (soms), soos ons sy teenwoordigheid mag geniet.


Friday, 20 October 2017

Oordenking - Ek wil vir jou 'n toekoms gee

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Ek wil vir jou ‘n toekoms gee

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! Dan sal julle My aan­roep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. (Jer. 29:11, 12)

Terwyl die Jode in ballingskap in Babel sit, skryf die profeet Jeremia vir hulle 'n brief: God het vir hulle 'n toekoms en 'n verwagting in gedagte.

Hulle sal Hom aanroep, tot Hom bid en Hy sal hulle gebede verhoor. Dit het vanselfsprekend ingehou dat die ballinge dus nie alleen met hulle hartseer verlede moes besig bly nie, en selfs ook nie moes vaskyk teen die situasie waarin hulle op daardie oomblik verkeer het nie. Dit is die Here wat hulle toekoms in sy hand hou, en dit kon hulle moed gee.

Presies dieselfde geld vir my en vir jou wat in die Here glo. Ons weet mos dat die Here nie vir ons teenspoed in gedagte het nie. Ons weet mos dat sy oor nie te traag is om te hoor nie, en dat sy arm nie te kort is om te help nie. Ons kan dan ook met blydskap die nuwe toekoms wat Hy vir ons elkeen in gedagte het, tegemoet lewe.

Jy sal moontlik lang lyste kan opstel oor dinge uit jou verlede wat nie so lekker was nie. Jy sal egter ewe lang lyste kan opstel van dinge wat die Here vir jou in die toekoms in gedagte het, en waarvan Hy in sy Woord skrywe. 'n Mens se eindbestemming is vir die Here van veel groter belang as jou herkoms. Moet dan nie voortdurend besig wees met die vraag: "Waarvandaan kom ek?" nie, maar: "Waarheen is ek op pad?"

Om vas te hou en te glo aan 'n wonderlike toekoms wat die Here vir jou in gedagte het, gee duidelike rigting aan 'n mens se lewe. Anders kan jy maklik met jou voet in die slagyster van gister se mislukkings bly vassit. Met die toekoms wat die Here vir jou droom in gedagte, is daar 'n groter gerigtheid in jou lewe. Anders gesê: jy kan nou al reeds 'n stukkie van die toekoms belewe. Elke dag. Vandag ook.


Friday, 29 September 2017

Oordenking - So was dit

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

SO WAS DIT

Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is (Gen. 2:4).

Een na die ander wonderlike geskape dinge het op God se woord uit sy gedagte tot stand gekom. Die Bybel som die hele ontsaglike proses in 'n bietjie meer as een hoofstuk op, eint­lik om slegs een groot feit te beklemtoon: God het dit gedoen. Presies hoe dit verloop het, is vir wetenskaplikes om na te vors en vir filosowe om te bedink. Niks verander egter aan die feit dat dit God is wat die gedoen het nie.

Twee akademici was eenmaal besig met 'n debat. Die een, 'n paleontoloog, is gevra hoe oud die mensdom is. Hy het geant­woord dat daar nog in wetenskaplike kringe hieroor geredeka­wel word, maar dis miljarde jare. Oor hierdie antwoord was daar 'n lewendige bespreking, want selfs die wetenskap gaan van voorveronderstellings uit en raai op sekere punte. Toe God in die debat genoem is, is 'n volgende vraag aan 'n tweede professor, 'n medikus, gestel: “As God iewers in die prentjie is, hoekom is daar soveel swak plekke in die heelal? As die mens so wonderlik is, hoekom kry hy soms ongeneeslike siektes?”

Die tweede professor het geantwoord: “Die mens, slegs 'n stoffie in die skepping, bestaan uit legio selle, en elke sel is weer ‘n wonderbare mikrokosmos van bewegende deeltjies. As iets in slegs een van daardie swetterjoel selle begin skeefloop, begin die proses van siekte. Die tragedie is dus nie dat mense terminaal siek word nie. Die wonder is dat soveel mense nié siek word nie. En die verdere wonder is dat, gedagtig aan die miljarde rampe wat moontlik kan gebeur, persentasiegewys min gebeur en alles deur God op koers gehou word.”

God hou alles op koers, en vernuwe dit totdat Hy weer alles totaal nuut maak. Die Bybel kon begin het met wetenskaplike formules wat min mense - indien enige - kon verstaan. God verkies 'n eenvoudige verhaal soos Jesus die gelykenis verkies het om 'n groot waarheid tuis te bring.


Die waarheid is: So was dit, so is dit, so sal dit wees. God is in beheer, beslis ook van ons lewens, siek of gesond.

Friday, 22 September 2017

Oordenking - Dis goed vir God

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

DIS GOED VIR GOD

En God het gesien dit is goed (Gen. 1:10).

'n Besoekende Nederlandse politikus is eenmaal deur sy gasheer in die Boland teen die Paarlberg op geneem. Hulle het by 'n uitkykpunt naby die granietrotse stilgehou om oor die vallei te staar. Dit was een van daardie besondere wintersdae wat soos diamante blink na die reën. Die son het sag oor die land­skap geskyn: die rivier en die groen wingerde, die ver blou Drakensteinberge en die sneeutoppe, die wasigheid van die groot damme in die vallei, die gekoesterde vrede.

Die politikus het gesê: “Nou begin ek iets verstaan van God wat na sy skepping gekyk het en gesien het dat dit goed was.”

Daar is in die woorde 'n gedempte, tevrede, ewige opgewonden­heid. God het gesien dat sy plan werk en dit het Hom plesier ge­gee. Die plan moes immers werk, want God is onfeilbaar, maar die onderdele van daardie plan wat in ruimte en tyd moes funk­sioneer daardie onderdele is feilbaar. Soos wat die mens wat Hy later sou skep, ek en jy, feilbaar sou wees.

By hierdie vroeë stap was God nog besig met die grondleg­gingswerk. Die besonderhede het nog voorgelê. Maar namate alles onder sy hand ontwikkel het - droë grond, plante, reptiele, voëls, diere, die mens - het God opgewonde gesien dat dit vir Hom goed was.

Iets van daardie goddelike opgewondenheid beleef ons wan­neer ons iets doen en klaarmaak en ons sien dis mooi of dit werk. Ons voel gewoon lekker daaroor. Om deur 'n harde stuk werk te worstel, nie voor 'n uitdaging te skrik nie, 'n plantjie te plant of 'n medemens se hand te vat - enigiets van tee maak tot 'n groot transaksie beding tot 'n kind help met 'n som - dis alles deel van God se skepping wat voortgaan. En 'n mens aanvaar Hy kyk na ons met belangstelling, liefde, begrip en betrokkenheid. Waarom anders het Hy ons gemaak as om behae in ons te hê?


Friday, 15 September 2017

Oordenking - Eerste lig

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

EERSTE LIG

Laat daar lig wees! (Gen. I :3).

Lig is een van die oer-elemente. God het dit "laat wees" lank voor die aarde se "lampe", die son en die maan, in hul bane geplaas is. Lig is nie afhanklik van die son en die maan nie. God is lig.

As die primitiewe heelal in die begin gemaak is, een wat op God se bevel en volgens sy meesterplan sou ontwikkel deur die "dae" of tydperke deur Hom bestem (wat oor dermiljoene jare kon strek en steeds vir God 'n oomblik is), was lig die tweede stap.

Dit het op God se woord van iewers gekom. Dit sinspeel daar­op dat God na die fondamente van alles gekyk het en nie van die donker en leegheid gehou het nie. Die fondamente van enige bousel is nooit mooi nie. "Laat daar lig wees!" het Hy gesê. Alles lyk beter in die lig. In die lig kon Hy sy skeppingsidees verder uitwerk en hul logiese gang laat gaan. Die meeste ontwikkelings­prosesse verloop makliker in die lig. Plante sal al hoër groei en  selfs deur skrefies beur om by die lig te kom.

Ons wil ook lig hê om in te lewe, en 'n nag sonder sterre is ondenkbaar. Wanneer die elektriese   afgaan, soek ons naarstigtiglik na flitse en kerse.

Tog kom daar ook donkerte, dikwels nodige donkerte, dat ons kan slaap en rus. Die donker is nodig om die mooiste to ontwikkel.

Dit gaan met ons geloof en emosionele groei ook so. Ons bin­neste voel soms soos die skepping voor die lig: woes en leeg, met "duisternis op die wêreldvloed" (vgl. Gen. 1:2, OAV). Sulke tye help selfs 'n kersie van hoop dat ons kan sien.

En dan, in 'n oomblik, skielik, sê God: "Laat daar vir jou volle lig wees!" Dis 'n teken soos aan die begin dat Hy voortgaan met sy skepping en ontwikkelingswerk aan jou en dat jy moet voort­gaan om jou eie klein deel by te dra.

Hy kan vir jou 'n kers opsteek of die son laat skyn. Iewers sal daar altyd vir jou lig kom.


Friday, 8 September 2017

Oordenking - Voor die begin

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

VOOR DIE BEGIN
In die begin het God die hemel en die aarde geskep (Gen. 1:1 ).
'n Universiteitsprofessor, bekend vir sy intellek en skerpsin­nigheid, het  eenmaal 'n besonder ingewikkelde opdrag aan sy nagraadse studente gegee. Hulle was verstom.

Een het naderhand gewaag om te vra: “Professor, waar begin 'n mens so 'n werkstuk?"

Waarop die hoogleraar ewe kalm gesê het: “Dames en here, dis nog die maklikste vraag van almal: u begin gewoonweg by die begin!”

Kom ons begin in hierdie reeks oordenkings ook vir ‘n verandering by die begin en probeer soveel moontlike gedeeltes uit die Bybel onder oë neem.

Almal weet dat God die hemel en die aarde “in die begin” geskep het. Die wat dit nie weet of wil weet nie, sou nie moeite doen om hier te lees nie, en iemand wat wel daardie moeite doen en nie aanvaar dat God hemel en aarde “in die begin” gemaak het nie, sal in elk geval nie veel verder lees nie.

Daar was 'n begin waarvan God die Beplanner en Argitek was en waarvoor Hy die teken gegee en die woord gespreek het. Maar, belangrik, voor die begin was God daar. Hy is die Begin-lose Begin. Die Onbeweeglike Beweger. Hy het geen begin en geen einde nie. Hy hoef nie te kyk na 'n almanak of horlosie nie. Hy dink nie in terme van dae en maande en eeue nie. Hy bestaan buite ruimte en tyd, in 'n totaal ander dimensie as alles wat Hy geskep het.

Hy skep ons vanuit sy ewige gedagte en stuur ons na sy skepping om die groot avontuur binne ruimte en tyd te ervaar wat ons “die lewe” noem. “Die lewe” het 'n begin en einde: ons leer sekere dinge, geniet sekere dinge, word seergemaak deur sekere dinge, en word genees deur sekere dinge. In al hierdie ty­delike dinge is God, die Tydlose, ook.

Hy was nie en sal nie wees nie. Hy is. Vandag. By die begin. Elke dag. By jou. Ewig.


Friday, 25 August 2017

Oordenking - Om naby God te leef

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

OM NABY GOD TE LEEF

Hy het naby God geleef en toe was hy nie meer daar nie, want God het hom na Hom toe weggeneem (Gen 5:24).

Henog het met God gewandel – só het die 1953-vertaling bogenoemde teks vertolk. Die heel eerste mens van wie ons die uitspraak te hore kom. Hoe "wandel" 'n mens saam met God wat Gees is? Ek dink dat die wandeling in die eerste plek dui op 'n lewenshouding van gemeenskap met God. Dit beteken iets van 'n oomblik-vir-­oomblik luister na God, gesels met God, gehoor­saam aan God lewe. Luister, praat, ervaar en doen. Miskien kan 'n wandel met God die heel beste met die paar woorde beskryf word.


Heelwat later sou 'n ander volgeling van God, saamloper met God, by name Paulus ook ontdek dat die ander dinge nie van veel belang is nie. In 'n sterkbewoorde verklaring meen hy dat al die ander goed as drek beskou moet word in vergely­king met sy saamloop met God. Hoe lyk jou pad? Wil jy graag die God wat met jou wil saamloop beter leer ken?

Friday, 18 August 2017

Oordenking - Die nutteloosheid van wonderwerke

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

DIE NUTTELOOSHEID VAN WONDERWERKE

Markus 6:1-13

Ek kan my goed voorstel dat, as enigeen van ons vir God sou kon raadgee oor hoe om moderne mense te beïndruk en tot geloof te bring, ons Hom waarskynlik sou aanraai om 'n paar wonderwerke te doen. Sien is mos glo. Of so glo ons.

Dit is daarom nogal verrassend om te lees wat hier gebeur. Markus ver­tel van die ongeloof van die mense in Jesus se geboortedorp en dan maak hy hierdie onverstaanbare stelling: “Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie ... Hy was verbaas oor die ongeloof van die mense” (6:5-6). 'n Mens sou die teenoorgestelde verwag: dat Jesus juis teen die ongeloof in, 'n klomp wonderwerke sou doen. Dit sou die mense tog aan die praat kry ... en tien teen een aan die glo ook.

Die storie word vertel van 'n dosent aan 'n universiteit wat sy studente uitgedaag het met die proefneming om 'n glas op die grond te laat val met die “gebed” dat dit nie moet breek nie. Die behoud van die glas sou dan 'n teken wees dat God wel bestaan. Volgens die storie het die glas toe geglip en op sy skoen te lande gekom. Ongeskonde. Het hy toe in God geglo? Na­tuurlik nie. Dit was “mos” 'n ongeluk.

Dis seker ook waarom Abraham in die gelyke­nis van die ryk man en Lasarus vir die bekom­merde ryke sê: “As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan"(Luk. 16:31).


Nee, sê 'n bekende skrywer, 'n mens glo nie in die bestaan van God deur bewyse nie — soos wat jy in die bestaan van Timbaktoe of die plan­ete sou glo nie. Jy glo in die bestaan van God soos wat jy in die bestaan van 'n vriend of geliefde glo. Bewondering is geen basis vir vriendskap nie. Nog minder is dit 'n gesonde basis vir 'n huwelik. Liefde is wel. Dit is wat God van ons vra. Want dit is wat Hy vir ons gee -  liefde!

Friday, 11 August 2017

Oordenking - Die Herder-Heer

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

DIE HERDER-HEER

2 Sam 5:1-5, 9-10

Dit is haas onmoontlik vir enige Nuwe-Testamentiese leser om nie reeds die spore van die Messias in die verkiesing en die lewe van die messiaanse koning Dawid raak te lees nie. Dit was immers Jesus wat van Homself gesê het dat Hy die goeie herder is, dat Hy sy lewe vir sy skape aflê (Joh. 10:11).

Dit is, soos ons in die lewe van Dawid gesien het, iets besonders as iemand dit regkry om van die bewaker van skape te vorder tot die leier van 'n land. Dit is in elk geval iets wat die meeste van ons so iemand sal beny. Wat ons iemand nie sal beny nie en een ding waarheen niemand waarskynlik sal aspireer nie, is om te "vorder" van heerser na herder.

In sekere sin is dit wat met Jesus se koms na die wêreld gebeur het. Maar ook net in sekere sin, want die Heer wat in die gestalte van 'n herder gekom het, was van ewigheid af 'n Herder. Hy was van ewigheid af die Een wat besorg is oor sy handewerk, oor sy skepsels. As Hy Hom openbaar as die Herder-Heer, dan is dit juis in hierdie oënskynlike teenstrydigheid wat Hy Hom kenbaar maak soos wat Hy is. Jesus is die ware herder, die toegewyde Herder, vir wie dit ten diepste aankom op die welstand en die veiligheid van sy skape. Maar Hy is ook die Heer, die Kurios, die Een aan wie alle mag in die hemel en op die aarde gegee is (Matt. 28:18).

En hierin, in hierdie openbaring van wie Hy is, is alles vervat wat die lewe vir ons 'n sinvolle onderneming maak. Want dit sê dat die God wat die heerser oor die hemel en die aarde is, ook dieselfde God is wat begaan is oor ons lot. Die God wat regeer, is die God wat waak. Die God wat die lewe gee, is terselfdertyd die God wat die liefde gee.


Daar is iets ongelooflik vertroostends aan hierdie wete: die Een wat my lewe in sy hande hou, is terselfdertyd die Een wat die meeste vir my omgee.

Friday, 4 August 2017

Oordenking - Kan 'n mens ooit genoeg gee

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

KAN ‘N MENS OOIT GENOEG GEE?

2 Kor 8:7-15

Die meeste van ons sou sekerlik al meermale gesprekke gevoer het oor die vraag: Kan 'n mens ooit genoeg gee?

Dikwels hoor ons en lees van mense wat letterlik al hulle goed weggegee het om verder in die geloof te lewe. Sulke getuienisse laat die meeste ander Christene gewoonlik geweldig skuldig en selfs geestelik minderwaardig voel.

Dan is dit bevrydend en bemoedigend om te sien hoe nugter en sonder sentiment Paulus met hierdie sake omgaan. Luister wat sê hy hier in 8:12: “As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie. En dan voeg die apostel nog by dat hy nie van enigiemand verwag om self gebrek te ly sodat hulle ander kan help nie (13).

Laasgenoemde is natuurlik die deel wat vir ons lekker is om te hoor. Onthou egter ook die woorde waarmee Paulus begin het: Aangesien julle alles in oorvloed het ... wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig (7). “Oor­vloedig gee” het uiteindelik min te doen met skuldgevoelens, maar alles met onderskei­dingsvermoë — die vermoe om te kan weet wanneer ek in oorvloed het en ander wat gebrek ly, moet help.

Hierdie onderskeidingsvermoê is egter nie 'n aangebore kwaliteit nie. Dit is iets wat alleen die Gees van God ons kan leer.


Preek 30 Julie - Ds. Eljam - 'n Kind van Jesus

Preek 26 Julie

Friday, 28 July 2017

Oordenking - Rykdom deur armoede

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

RYKDOM DEUR ARMOEDE

2 Kor 8:7-15

"Hy het ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word" (9). Watter vreemde gedagte! Volkome onbegryplik, selfs onlo­gies: dat 'n mens kan ryk word deur iemand anders se armoede? Om dit te kan verstaan, moet ons gaan kyk wat Paulus besig is om hier aan die gemeente in Korinte te skryf. Uit die brief in die geheel is dit duidelik dat Korintiërs 'n gemeente met besondere gawes was. Paulus begin sy betoog dan ook deur te se: “Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer ...” (8:7).

Maar soos wat dit dikwels met 'n gemeente gaan wat alles in oorvloed het, was hulle so be­sig met allerhande grootse en belangrike dinge, dat hulle op hulleself en die dinge wat hulle doen, begin fokus het. Toe vergeet hulle dat God hulle al hierdie wonderlike dinge geskenk het, nie as 'n manier waarop hulle hulself kan verryk nie, maar as 'n manier waarop hulle gesante van God in die wêreld kan wees.

Dit is egter geweldig belangrik om te let op die rede waarom Paulus hulle tot liefdeswerk aanspoor. Dit is nie iets wat hulle in eerste instansie vanuit hulle oorvloed óf uit skuldgevoelens moet doen nie; nee, dit moet 'n refleksie wees van die liefdeswerk van Jesus Christus. Want Christus het uit liefde die hemelse rykdom en heerlikheid verlaat om deel te word van ons wêreld van armoede. Deur sy menswording het Hy sy heer­likheid by wyse van spreke “opgeoffer” ter wille van ons (9).

Daarom: wanneer ons deur die geloof deel van die gemeenskap van die gelowiges word, ontvang ons die heerlikheid of die rykdom van Hom wat dit nie vir Homself gehou het nie, maar dit ter wille van ons uitgestort het. In Bybelse taal sê ons dat Christus Hom ontledig het, Hom leegge­maak het. Hoekom? Sodat ons vol kan raak van dit wat Hy uitgestort het. Van sy liefde, ja, maar ten diepste: vol van Homself. Dit is wat die wêreld in ons moet sien, en in ons dade moet ervaar.