Friday, 24 March 2017

Oordenking - Gaan doen die seën van die Here elke dag

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

GAAN DOEN DIE SEËN VAN DIE HERE ELKE DAG

As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde. (Jak. 4:17)

Ons gesels oor God se seën. God se heel grootste seënbe­wys aan ons in die kruisgebeure geleë. Ons staan reg in die middel van God se fontein van seëninge as ons hierdie goeie nuus glo. Die Here se seën is nie maar net afhanklik van 'n paar goeie dinge wat hier en nou met ons gebeur nie. Anders as wat die meeste mense dink, is die Here se seën iets wat gelowiges elke dag mag ondervind. Maar dit val nie maar net asof vanuit die niet op ons neer nie. Nee, ons moet ook iets doen om sy seën te mag ervaar. Ons moet ons hart met God se woorde volmaak.
'n Mens beleef die Here se seën as jy jou lewe in pas met God bring en dit ook so hou. Wanneer jy al jou skatte op die regte plek belê het, is jy een van daardie min gelukkige mense wat kan bekostig om so 'n bietjie meer sorgvry as die res van moederaarde se bewoners te leef.


'n Mens moet God se seën elke dag doen. Miskien klink hierdie woorde vir jou vreemd. Maar dit is min of meer wat Jakobus vir ons wil sê. Wanneer jy weet wat die regte dinge is om te doen; dit wil sê, daardie dinge wat God se hart bly maak, en jy doen dit nie, dan doen jy tog wel iets, maar daardie "iets" word egter deur Jakobus as sonde omskryf. Om goeie dinge te doen, plaas jou binne die ruimte van God se seën, terwyl sondes jou daarvan uitsluit. Daarom roep Jakobus ons op om reg te lewe; om dit te doen wat ons hand vind om tot eer van God en tot voordeel van ander te doen. Ons moet onsself dus as 't ware binne in die blikveld van God se seën inwerk.

Friday, 17 March 2017

Oordenking - 'n Vrolike hart

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

‘N VROLIKE HART

Juig tot eer van die Here, almal op aarde, wees vrolik, juig, sing! (Ps. 98:4)

Die profeet Habakuk kon God steeds loof ten spyte van die krisis wat sy volk se voortbestaan bedreig het. Sy lof aan God is nie verdof deur sy ontsteltenis oor die lande wat nie meer oeste opgelewer het nie. Want Habakuk het geweet dat God se goedheid nie maar net van tydelike voordele afhanklik was nie.

God bly 'n goeie God, ten spyte van droogtes, werkloosheid, en AK 47's wat in ons strate knal. Hy is groter as al ons probleme. Dit sê Hy oor en oor in die Bybel. Habakuk het hierdie dinge geweet en dit ook geglo! Daarom kon hy sy kop optel terwyl almal rondom hom verslae rondgesit het. Hy kon selfs begin sing; gelukkig nie 'n treurlied nie, maar wel 'n vreugdelied. Want diep binne-in hom het daar 'n vreugde geleef wat selfs deur sy krisisse heen kon weerklink.

Hoe gelukkig is jy as jy ook Habakuk se geheim ontdek het; as jy 'n fontein van hemelse vreugde in jou hart ronddra. Wanneer jy geleer het om bly te wees oor God; so bly dat jy dit hardop wil uitroep en uitsing, dan is jy inderdaad 'n geseënde. Want dan het jy 'n lid geword van die koor van God se skepping wat Hom dag na dag loof.

Om God te loof is nie net iets wat mens op 'n Sondag in 'n erediens doen nie. Nee, dit is 'n daaglikse gebeure; 'n lewenstyl. Dit is nie iets wat jy vinnig kan aanleer nie. Lof aan God kom uit jou hart uit. En as dit nie daarvandaan kom nie, dan is dit eenvoudig nie eg nie.


Slegs iemand wat God se grootheid en sy liefde ken, is iemand wat Hom opreg kan loof. Ek hoop dat jy so iemand is.

Friday, 10 March 2017

Oordenking - ‘N LEË BANKREKENING TEN SPYT

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

‘N LEË BANKREKENING TEN SPYT

Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, ... en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. (Hab. 3:17-18)

Lande sonder oeste? Beeskrale sonder beeste? Dit is nou vir jou 'n pro­bleem. Geen boer kan mos sonder 'n goeie oes of 'n groot kudde voortbe­staan nie. Of wat van 'n bankrekening wat jare reeds kurkdroog is? Of daardie werks-geleentheid wat maar nie op die horison wil verskyn nie? Wat gemaak as hierdie dinge jou tref? Hoe dink jy dan oor God se seën? As jy dan nog die moed oor het om hieraan te dink? Miskien voel jy in sul­ke tye eerder dat God rugkant eerste na jou toe staan; dat Hy nie meer tyd in sy besige program oor het om boonop nog na jou ook te luister nie.

In die tyd van die Bybel was dit 'n groot krisis wanneer dinge soos droogtes of oorloë die Israeliete getref het. Hulle het immers geweet van God se beloftes aan Abraham van 'n groot nageslag en 'n eie land. Daarom het baie van hulle later ook begin dink dat die Here se seën net te siene was in baie kinders, wuiwende saailande en groot troppe kleinvee. 'n Droogte soos die waarvan Habakuk praat, was daarom gelykstaande aan 'n verontagsaming van God se kant.

Gelukkig het Habakuk geweet dat God se seën anders werk. Dit is nie slegs afhanklik van groot oeste nie. Nee, God is ten spyte van songeskroeide lande en leë wingerde steeds by sy kinders. Sy liefde droog nie op wanneer die reën ophou om te val nie. Sy hart gaan ook nie toe wanneer jou bankre­kening leeg raak nie. Inteendeel.


Wanneer mens die dag agterkom dat God jou nie in jou krisistye alleen los nie, skep jy sommer weer moed. Dan word jy weer bewus van sy hand wat stilweg op jou moeë skouers rus. Dan kry jy ook die krag om verby jou omstandighede te kyk na Hom wat groter is as jou grootste krisis.

Thursday, 2 March 2017

Oordenking - DIÉ WAT DORS, IS OOK GESEËND

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

DIÉ WAT DORS, IS OOK GESEËND

Soos 'n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. (Ps. 42:2)

lemand sê op 'n dag heel ernstig vir my dat hy eerder op 'n Sondagoggend langs die viswaters sal sit en wens hy was in die kerk as dat hy in die kerk sit en wens hy was by die viswaters. Bid jou dit aan! Watter verskonings mense darem nie alles sal uitdink om nie kerk toe te gaan nie.

Die skrywer van Psalm 42 bevind hom ook in 'n situasie waar hy wens dat hy by God se woning kan uitkom. Hy is egter nie 'n kerkontduiker nie, maar 'n gelowige wat met sy hele hart na die Here se teenwoordigheid smag. Maar ongelukkig bevind hy hom nou baie ver van die tempel in Je­rusalem terwyl sy teenstanders boonop nog met hom die spot dryf oor sy geloof. Met heimweë dink hy dan terug aan daardie tyd toe by saam met die feesvierende skare na God se woonplek opgetrek het. Hierdie hunkering van die psalmskrywer na God se teenwoordigheid laat hom voel soos 'n wildsbok wat desperaat in die woestyn op soek is na water.
Het jy ook al in jou lewe so 'n diepe hunkering na God se teenwoordig­heid ervaar? Het jy al gevoel om saam met die psalmskrywer uit te roep: "Ek dors na God, die lewende God. Wanneer kan ek voor God verskyn?" Wel, dan bevind jy jou op die regte plek. Want hierdie hunkering na 'n in­niger wandel met God kom nie sommer vanself oor 'n mens nie. Nee, dit is die Heilige Gees wat hierdie dors na God in jou hart geplaas het. Hou dus maar net aan om na sy wil te vra, om sy teenwoordigheid te bly op­soek. Hy sal uiteindelik sy eie vrede aan jou gee.

Dit is nie verkeerd as mens saam met die skrywer van Psalm 42 smag na God se teenwoordigheid nie. Inteendeel. Dit is 'n teken van seën. Dit is 'n bewys dat God ook daarna verlang dat jy nog meer bewus sal wees van sy krag en liefde.