Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.
‘N LEË
BANKREKENING TEN SPYT
Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe
aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes
lewer nie, ... en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here
jubel, sal ek juig in God, my Redder. (Hab. 3:17-18)
Lande sonder oeste?
Beeskrale sonder beeste? Dit is nou vir jou 'n probleem. Geen boer kan mos
sonder 'n goeie oes of 'n groot kudde voortbestaan nie. Of wat van 'n
bankrekening wat jare reeds kurkdroog is? Of daardie werks-geleentheid wat maar
nie op die horison wil verskyn nie? Wat gemaak as hierdie dinge jou tref? Hoe
dink jy dan oor God se seën? As jy dan nog die moed oor het om hieraan te dink?
Miskien voel jy in sulke tye eerder dat God rugkant eerste na jou toe staan;
dat Hy nie meer tyd in sy besige program oor het om boonop nog na jou ook te
luister nie.
In die tyd van die Bybel
was dit 'n groot krisis wanneer dinge soos droogtes of oorloë die Israeliete
getref het. Hulle het immers geweet van God se beloftes aan Abraham van 'n
groot nageslag en 'n eie land. Daarom het baie van hulle later ook begin dink
dat die Here se seën net te siene was in baie kinders, wuiwende saailande en
groot troppe kleinvee. 'n Droogte soos die waarvan Habakuk praat, was daarom
gelykstaande aan 'n verontagsaming van God se kant.
Gelukkig het Habakuk geweet
dat God se seën anders werk. Dit is nie slegs afhanklik van groot oeste nie.
Nee, God is ten spyte van songeskroeide lande en leë wingerde steeds by sy
kinders. Sy liefde droog nie op wanneer die reën ophou om te val nie. Sy hart
gaan ook nie toe wanneer jou bankrekening leeg raak nie. Inteendeel.
Wanneer mens die dag
agterkom dat God jou nie in jou krisistye alleen los nie, skep jy sommer weer
moed. Dan word jy weer bewus van sy hand wat stilweg op jou moeë skouers rus.
Dan kry jy ook die krag om verby jou omstandighede te kyk na Hom wat groter is
as jou grootste krisis.
No comments:
Post a Comment