Friday, 17 March 2017

Oordenking - 'n Vrolike hart

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

‘N VROLIKE HART

Juig tot eer van die Here, almal op aarde, wees vrolik, juig, sing! (Ps. 98:4)

Die profeet Habakuk kon God steeds loof ten spyte van die krisis wat sy volk se voortbestaan bedreig het. Sy lof aan God is nie verdof deur sy ontsteltenis oor die lande wat nie meer oeste opgelewer het nie. Want Habakuk het geweet dat God se goedheid nie maar net van tydelike voordele afhanklik was nie.

God bly 'n goeie God, ten spyte van droogtes, werkloosheid, en AK 47's wat in ons strate knal. Hy is groter as al ons probleme. Dit sê Hy oor en oor in die Bybel. Habakuk het hierdie dinge geweet en dit ook geglo! Daarom kon hy sy kop optel terwyl almal rondom hom verslae rondgesit het. Hy kon selfs begin sing; gelukkig nie 'n treurlied nie, maar wel 'n vreugdelied. Want diep binne-in hom het daar 'n vreugde geleef wat selfs deur sy krisisse heen kon weerklink.

Hoe gelukkig is jy as jy ook Habakuk se geheim ontdek het; as jy 'n fontein van hemelse vreugde in jou hart ronddra. Wanneer jy geleer het om bly te wees oor God; so bly dat jy dit hardop wil uitroep en uitsing, dan is jy inderdaad 'n geseënde. Want dan het jy 'n lid geword van die koor van God se skepping wat Hom dag na dag loof.

Om God te loof is nie net iets wat mens op 'n Sondag in 'n erediens doen nie. Nee, dit is 'n daaglikse gebeure; 'n lewenstyl. Dit is nie iets wat jy vinnig kan aanleer nie. Lof aan God kom uit jou hart uit. En as dit nie daarvandaan kom nie, dan is dit eenvoudig nie eg nie.


Slegs iemand wat God se grootheid en sy liefde ken, is iemand wat Hom opreg kan loof. Ek hoop dat jy so iemand is.

No comments:

Post a Comment