Thursday, 2 March 2017

Oordenking - DIÉ WAT DORS, IS OOK GESEËND

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

DIÉ WAT DORS, IS OOK GESEËND

Soos 'n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. (Ps. 42:2)

lemand sê op 'n dag heel ernstig vir my dat hy eerder op 'n Sondagoggend langs die viswaters sal sit en wens hy was in die kerk as dat hy in die kerk sit en wens hy was by die viswaters. Bid jou dit aan! Watter verskonings mense darem nie alles sal uitdink om nie kerk toe te gaan nie.

Die skrywer van Psalm 42 bevind hom ook in 'n situasie waar hy wens dat hy by God se woning kan uitkom. Hy is egter nie 'n kerkontduiker nie, maar 'n gelowige wat met sy hele hart na die Here se teenwoordigheid smag. Maar ongelukkig bevind hy hom nou baie ver van die tempel in Je­rusalem terwyl sy teenstanders boonop nog met hom die spot dryf oor sy geloof. Met heimweë dink hy dan terug aan daardie tyd toe by saam met die feesvierende skare na God se woonplek opgetrek het. Hierdie hunkering van die psalmskrywer na God se teenwoordigheid laat hom voel soos 'n wildsbok wat desperaat in die woestyn op soek is na water.
Het jy ook al in jou lewe so 'n diepe hunkering na God se teenwoordig­heid ervaar? Het jy al gevoel om saam met die psalmskrywer uit te roep: "Ek dors na God, die lewende God. Wanneer kan ek voor God verskyn?" Wel, dan bevind jy jou op die regte plek. Want hierdie hunkering na 'n in­niger wandel met God kom nie sommer vanself oor 'n mens nie. Nee, dit is die Heilige Gees wat hierdie dors na God in jou hart geplaas het. Hou dus maar net aan om na sy wil te vra, om sy teenwoordigheid te bly op­soek. Hy sal uiteindelik sy eie vrede aan jou gee.

Dit is nie verkeerd as mens saam met die skrywer van Psalm 42 smag na God se teenwoordigheid nie. Inteendeel. Dit is 'n teken van seën. Dit is 'n bewys dat God ook daarna verlang dat jy nog meer bewus sal wees van sy krag en liefde.


No comments:

Post a Comment