Friday, 25 May 2018

Oordenking - Wanneer God se Woord oopgaan


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

WANNEER GOD SE WOORD OOPGAAN

Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan die wat nog onervare is. Met my hele wese smag ek na u gebooie, verlang ek daarna. Psalm 119:130-131

In hoevele huise is die Bybel nie 'n geslote boek nie. Ja, dit word by geleentheid, of soms nogal heel dikwels, gelees. Nogtans gaan die dieper betekenis daarvan verlore omdat dit nie met verwagting gelees word nie. Jesus se treffende gelykenis van die saaier verduidelik maar alte goed hoedat die woordsaad nie in almal se lewens dieselfde uitwerking het nie.

Wanneer God se Woord vir mense oopgaan, bring dit lig en gee insig. God se Woord verlig 'n mens se verstand. Dit maak jou skerp in jou waarneming en besluitneming. Jy kry nuwe begrip vir jou omstandighede en ontdek in die lig van die Woord hoe om dit sinvol te hanteer. Maar dan moet die Woord vir jou oopgaan, dit moet vir jou 'n Godsopenbaring word. Jy moet terwyl jy die Woord hoor of lees, ervaar dat God self aan die woord kom. Dit gaan hier oor die verskil tussen 'n terloopse, haastige stukkie van die Bybel lees, en om biddend en met verwagting die Bybel te lees. Dit sal goed wees om gereeld vir jou tyd af te sonder om rustig en met verwagting met God se Woord om te gaan.

Die verskil tussen 'n geslote boek en die Woord wat vir jou oopgaan, kom in vers 131 aan die lig. Wanneer 'n mens met jou hele wese smag na God se woord, daarna verlang omdat dit vir jou kosbaar is, gaan die Woord vir jou oop en ervaar jy hoe God self met jou praat.


Preek 20 Mei - Ds. Hansie - Geseend is die vredemakers

Preek - Geseend is die vredemakers

Friday, 18 May 2018

Preek - 6 Mei - Ds. Eljam - Sorg dat jy altyd so leef

Preek - Sorg dat jy altyd so leef

Preek 13 Mei - Ds. Eljam - Afhanklik van God

Preek - Afhanklik van God

Oordenking - Kosbaarder as goud


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Kosbaarder as goud

Die eise van die Here vir sy diens is goed: dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg: elkeen van hulle is regverdig.
Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as
druppels uit heuningkoek. U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning. Psalm 19:10
-12

Die Woord van die Here dui nie net die regte koers aan nie, maar stel ook eise aan God se kinders. Ten einde op die regte koers te bly, moet jy bereid wees om reg te doen, om die woord van die Here te gehoorsaam. God se eise is altyd reg en regverdig. Hy stel geen eise wat nie in jou belang is nie. Die Here is nie 'n pretbederwer wat alles voor die voet verbied nie. Maar Hy is ook nie 'n lamsakkige vader wat om vredeswil net maar alles toelaat nie. Gehoorsaam gerus die Here se eise; dit is in jou eie belang. Dan sal jy vind dat dit baie kosbaar is.

Wanneer die digter God se Woord as kosbaarder as goud bestempel, ken hy 'n waarde daaraan toe wat die hoogste materiële waardes oortref. Vir baie mense lê die waarde van die lewe in materiële sekuriteite opgesluit. Hulle sal feitlik alles prysgee net ter wille van materiële gewin. En in die proses sal God se wet ook nie veel punte tel nie. Die gelowige wat hom egter deur God se Woord laat leer en lei, vind die dieper en egte waarde van die lewe. En sy beloning is groot. Miskien nie wat geld en goed betref nie, maar beslis wat lewensvreugde en lewensvervulling betref. Daar is geen groter beloning as om God se doel vir jou lewe te bereik in gehoorsaamheid aan sy Woord nie.


Friday, 11 May 2018

Oordenking - Blydskap en insig


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

BLYDSKAP EN INSIG

Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder: dit gee insig. Psalm 19:9

Die digter van Psalm 19 vertel vir ons wat die Here se Woord vir ons wil beteken. Dit is veel meer as 'n ligte vertroosting of bemoediging. Dit is 'n Woord met daadkrag wat dinge in ons lewens laat gebeur. Let op dat die digter aan die woord van die Here verskillende benaminge gee (wet, bevele, gebod, opdragte, ens.), maar dit gaan telkens maar net om een saak, naamlik die woord wat lewe gee uit die mond van die almagtige God.

Ons hoor keer op keer dat die Here se Woord vir ons die regte koers aandui. Dit is rigtinggewend. Dit plaas ons op koers na die regte doelwitte. Is dit nie verbysterend hoe maklik 'n mens koers verloor nie? Daar is so baie dinge wat ons aandag aftrek en ons van ons doelwitte laat vergeet. Ons agenda raak mettertyd oorlaai met onbelangrike dinge wat algaande al hoe belangriker raak. Die Here se Woord wil ons op koers hou sodat ons gelukkige mense kan wees. Om jou doel te bereik, maak jou bly. 'n Vervulde lewe is 'n vreugdelewe.

'n Verdere pluspunt van God se Woord is dat dit vir 'n mens insig gee. Dit help jou om sake helder deur te sien en te weet presies watter besluite geneem moet word. En dit gebeur so omdat jy die Woord van die Here as betroubare maatstaf kan gebruik.


Friday, 4 May 2018

Oordenking - Gee my krag


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.


GEEN MY KRAG!

Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe
lewenskrag. Ek wil nie sterwe nie, anders sê my vyand hy het my oorwin
en juig my verdrukkers oor my ondergang. Ek hou vas aan u troue liefde,
oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die
Here, omdat Hy aan my goed gedoen het. Psalm 13:4
-6

'n Benoude hulpgeroep: "Here, gee my krag!" En hoe goed ken ons nie die versugting nie. Hoe dikwels bevind ons onsself nie aan die einde van ons kragte nie. Dit kan wees as gevolg van benouende omstandighede, siekte, of krisisse - al die goed wat ons kragte tap. Ons voel gedreineer en soms selfs deur die dood bedreig. So het die digter gevoel. Sy lewe was letterlik op die spel. En sy dood sou 'n oorwinning vir sy vyande (en onregstreeks ook God se vyande) beteken. Gee my tog nuwe lewenskrag. Tot sover sy versugting. Besluit eers of jy jouself by geleentheid met die man se stemming kan identifiseer.

En dan, sommer so in dieselfde asem, kom hy met 'n vreugdelied vorendag. Ja, ek voel kragteloos, maar ek ken die Here, Hy sal my ondersteun. Ek hou vas aan sy troue liefde. My God is getrou aan sy beloftes. Hy laat nie sy kinders in die steek nie. Daarom juig my hart. En daarom sing ek sommer so deur my trane heen. Die Here het aan my goed gedoen. Het gedoen? Ja, so seker is ek van my God se troue liefde.
Hou ons nie te dikwels by die kragelose hulpgeroep op nie? Moet ons nie meer dikwels van klaagsang tot loflied oorgaan nie? Ons ken mos ons Here. Hy is en bly getrou aan sy beloftes. Sing tot sy eer!