Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
WANNEER GOD SE
WOORD OOPGAAN
Wanneer u woord vir
mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan die wat nog onervare is. Met my
hele wese smag ek na u gebooie, verlang ek daarna. Psalm 119:130-131
In hoevele huise is die
Bybel nie 'n geslote boek nie. Ja, dit word by geleentheid,
of soms nogal heel dikwels, gelees. Nogtans gaan die dieper betekenis daarvan
verlore omdat dit nie met verwagting gelees word nie. Jesus se treffende
gelykenis van die saaier verduidelik maar alte goed hoedat die woordsaad nie in
almal se lewens dieselfde uitwerking het nie.
Wanneer God se Woord vir
mense oopgaan, bring dit lig en gee insig. God se Woord verlig 'n mens se
verstand. Dit maak jou skerp in jou waarneming en besluitneming. Jy kry nuwe
begrip vir jou omstandighede en ontdek in die lig van die Woord hoe om dit
sinvol te hanteer. Maar dan moet die Woord vir jou oopgaan, dit moet vir jou 'n
Godsopenbaring word. Jy moet terwyl jy die Woord hoor of lees, ervaar dat God
self aan die woord kom. Dit gaan hier oor die verskil tussen 'n terloopse,
haastige stukkie van die Bybel lees, en om biddend en met verwagting die Bybel
te lees. Dit sal goed wees om gereeld vir jou tyd af te sonder om rustig en met
verwagting met God se Woord om te gaan.
Die verskil tussen 'n geslote boek en die
Woord wat vir jou oopgaan, kom in vers 131 aan die lig. Wanneer 'n mens met jou
hele wese smag na God se woord, daarna verlang omdat dit vir jou kosbaar is,
gaan die Woord vir jou oop en ervaar jy hoe God self met jou praat.
No comments:
Post a Comment