Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.
God bo-aan my lewensagenda
Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom (Fil 1:9-10).
Daar is soveel
belangrike dinge wat jou aandag en kragte van dag tot dag opeis. Daar is die
besigheid wat jy bedryf; voltydse studie vir 'n loopbaan; die sleurgang van
die huishouding; die opvoeding van die gesin; die sorg vir siekes en bejaardes
en nog baie ander.
Desnieteenstaande
mag jy hierdie dinge nie verhef tot die hoogste goed nie. Jy moet God eerste
plaas op die agenda van elke dag. Hy is immers die Eerste en die Laaste; uit Hom,
en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Hy eis die hoogste prioriteit in jou
bestaan, nie alleen omdat Hy die reg daartoe het nie, maar ook omdat jou lewe
daardeur sy hoogste doel bereik en wen aan diepte en kwaliteit.
As Hy eerste in jou lewe is, sal Hy elke terrein van jou lewe beïnvloed wat
aan Hom ondergeskik gemaak word. Vereer God met jou tyd,
jou talente, jou besittings, jou planne en laat sy Gees toe om te heers oor al
die aspekte van jou bestaan. Dan sal jy die opwindende ontdekking maak dat,
wanneer God eerste geplaas word in jou lewe, jy perspektief in die lewe kry.
Dan sal jy vrede hê met jouself en met ander.
Hemelse Vader, leer my deur u Heilige Gees dat my primêre taak is om U
eerste te plaas. Daarop moet dit vir my wesenlik aankom. Doen dit in my lewe
deur die verdienste van Jesus Christus, wat geleef en gesterf het om U te
verheerlik.
No comments:
Post a Comment