Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Stormgeteisterde geloof
As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om
te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy die
wat Hom soek, beloon (Heb 11:6)
Ons leef nou, meer as ooit tevore,
in moeilike en gevaarlike tye. Daar is 'n universele gewaarwording dat dinge op
die wêreldtoneel na 'n klimaks toe beweeg. Daarom is dit noodsaaklik dat jy 'n
geloof besit wat onwrikbaar sal bly staan as alles rondom jou in duie stort. Alleen
'n mens met 'n onstuitbare geloof in die doel van God met hierdie verskeurde wêreld,
sal die toekoms met vertroue kan tegemoetgaan.
Die mens wat ernstig oor die lewe nadink, word meer en
meer daarvan bewus dat hy in 'n unieke tydsgewrig lewe. Oor die wêreld heen
hunker die mensdom na 'n versekering dat God weet, dat Hy omgee en dat Hy iets kán doen. Al
lyk dit nie aldag so nie, is hierdie nóg God se wêreld.
In sy soeke na geestelike sekerheid het die mens vele
paaie gevolg en die leerstellings van Jesus op verskillende maniere vertolk.
Baie dissipels van die Meester leef in groot verwarring. Maar Christus het nie
'n nuwe teologiese dogma kom verkondig nie. Hy het 'n nuwe lewe kom bied aan
hulle wat dit wil aanneem. Hy bied ook die krag van geloof - 'n geloof wat
staande sal bly, selfs onder die aanslae van die Bose.
Wanneer
Christus sentraal staan in jou lewe en sy Gees jou lewe beheers, het jy 'n
fondament waarop jy doelgerig kan bou. Die bouwerk wat op hierdie fondament verrys sal die magte van die duisternis weerstaan.
Here,
dankie dat ek by U vrede en stilte kan ondervind. Versterk my geloof en lei my
op u pad.
No comments:
Post a Comment