Friday, 24 May 2019

Oordenking - Bou vir jou reserwes op


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

BOU VIR JOU RESERWES OP

Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie (Joh 15:4)

Dinamiese Christenskap beteken om van oomblik tot oomblik te leef in 'n wingerdstok-loot-verhouding met Christus.

Dit beteken nie net dat jy totaal van Hom afhanklik is nie, maar ook dat jy steeds besig is om te groei, om dinamies te groei. 'n Dissipel van Christus se lewe is nie staties nie, maar 'n steeds groeiende bewuswor­ding van God. Dit beteken ook dat jy 'n reserwe van geloof het waaruit jy kan put in donker en moeilike dae wat voorlê. Soos die sakeman finansiële reser­wes opbou, moet hulle wat dit erns maak met hulle geestelike lewe, ook geestelike reserwes opbou. As jy soos 'n loot aan 'n wingerdstok in God bly, is jy nie as loot net op jou reserwes aangewys nie, maar kan jterugval op die wingerdstok.

Geen Christen is vrygespreek van tye van depressie nie. Tye wanneer God  ver verwyderd skyn te wees. Om in die tye sekerheid en vertroue te hê, moet jy 'n kragbron hê waaruit jy vryelik kan put. Daarom moet jy in Christus geborge bly soos die loot in die wingerstok, sodat sy krag onbe­lemmerd deur jou kan vloei en jy die vrugte kan dra wat Hy van jou lewe verwag.

Versterk my, o Bron van krag, om my geestelike reserwes op te bou. Leer my om in U te bly, sodat ek sal sterk wees in tye van beproewing.


Preek 19 Mei - Ds. Hansie - Jesus leef en ons sal leef


Friday, 17 May 2019

Preek - 12 Mei - ds. Eljam - Twee verhale met baie lesse


Oordenking - 'n Suksesresep


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

‘N SUKSESRESEP

Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel (1 Tim 1:12)

Almal wil graag suksesvol wees. Niemand wil graag as 'n mislukking geklassifiseer word nie. In die moderne samelewing beteken "sukses" om jou doelstellings te bereik en as beloning prestige en welgesteldheid te geniet. Daar is talle mense wat nie uitgestyg het bo die gemiddelde in hulle beroep of professie nie, wat nie groot bankrekenings het nie en tog die respek van hulle medemens verdien het. Sukses is wel begeerlik en iets om na te streef, maar dit is veel meer as geld, prestige of gesag. Dit is 'n lewenskwaliteit wat gekweek word deur adel van die gees en gehoor­saamheid aan God.

Die Skrif klassifiseer sukses nie as die hoogste doelstelling in ons geestelike lewe nie. Daar is ander kwaliteite wat van groter belang is in die oë van God. Voordat God 'n persoon "suksesvol" verklaar, eis Hy gehoorsaamheid en getrouheid in alle sake. God kyk verby menslike waardebepalings en beoordeel ware sukses in terme van toewyding aan Hom en aan sy wil.

Iemand kan 'n sukses of 'n mislukking in die oë van sy medemens wees, maar die finale toets lê in die vraag: Het Hy my betroubaar geag?

My hoogste vreugde, o Here, is om u wil te doen en aan U getrou te wees onder alle omstandighede.

Friday, 10 May 2019

Oordenking - Gevaarlike Selfminagting


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

GEVAARLIKE SELFMINAGTING

Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?
(Rom 7:24)

Daar is baie mense wat minderwaardig voel en nog voor hulle 'n nuwe onderneming aanpak, reeds oortuig is daarvan dat dit tot mislukking gedoem is. In hulle geestelike lewe glo hulle met oortuiging dat hulle nooit die geestelike groei kan bereik wat God vir hulle bedoel het nie. Hulle benader die hele lewe vanuit die veronderstelling dat hulle reeds verloor het.

Om te volhard met so 'n swak selfbeeld beroof jou van die vernuwende krag wat die liefde van God in jou lewe genereer. As jy aanhou met selfverwyt oor sonde wat God reeds vergeef het, kan jy nie in sy genesende liefde deel nie.

As jy die vergifnis van God aanvaar en jou verheug in jou verlossing uit sonde, het jy geen reg om jouself te veroordeel nie. Jy is 'n verloste kind van jou Hemelse Vader en jy moet die lewe moedig en met selfvertroue aanvaar. Jy moet verder gaan as "Ek ellendige mens!" en uitkom by "Aan God die dank! Hy doen dit (verlos ons) deur Jesus Christus ons Here." As jou selfvertroue op die manier herstel is en Christus 'n lewende werklikheid in jou lewe word, sal jy saam met Paulus kan bely: "Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet" (Rom 8:37). Niks, nie eens 'n swak selfbeeld kan jou skei van die liefde van God nie.

Here, in u krag en deur u vergifnis, minag ek myself nie meer nie, maar verheug my in u verlossing.


Friday, 3 May 2019

Oordenking - Die Vrymoedigheid om te Getuig


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

DIE VRYMOEDIGHEID OM TE GETUIG

Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe (1 Tim 4:7)

'n Mens kan Christus nie in die geheim volg soos Nikodemus nie. Of die geheim vernietig jou Christenskap of jou Christenskap vernietig die geheim. Sommige mense is traag om oor hulle geloof te praat. Hulle godsdienstige oortuigings is so intiem dat dit selfs vir hulle beste vrien­de versteek is.

Hiervoor is daar baie redes: Sommige mense is inherent teruggetrokke of skaam. Of die geselskap waarin jy jou bevind, mag dalk spottend verwys na enigiets wat met godsdiens te doen het. Die gevaar bestaan miskien dat jy vanweë jou godsdienstige oortuigings uit sekere groepe uitgesluit sal word. Entoesiasme oor jou geloof mag jou brandmerk as ongebalanseerd. Gevolglik swyg jy oor die heel belangrikste aspek van jou lewe.

As jou geloof vir jou 'n werklikheid is, sal jy dit nie verborge kan hou nie. Jou lewe sal dit wys. Dit is alleen wanneer 'n persoon se lewe nie ooreenstem met sy geloofsoortuiging nie, dat hy die feit probeer weg­steek dat hy 'n gelowige volgeling van Jesus Christus is.

Wanneer Christus sentraal staan in jou geloof en godsdiensbeoefening en jy bewus is van jou verbintenis met Hom — soos die loot aan die wingerdstok — is dit nie meer belangrik wat ander sê of doen nie. Jy weet dat vir jou die lewe Christus is en jou hoogste ideaal is om Hom te gehoorsaam. Jy sal jou blydskap en opwinding nie wil wegsteek nie, maar dit liewer met ander wil deel.

Jesus Christus, U is die Bron van al my vreugde. Dankie dat U elke dag 'n lewende werklikheid in my lewe is.