Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
GEVAARLIKE SELFMINAGTING
Ek, ellendige mens! Wie
sal my van hierdie doodsbestaan verlos?
(Rom 7:24)
Daar is baie mense wat minderwaardig
voel en nog voor hulle 'n nuwe onderneming aanpak, reeds oortuig is daarvan dat dit tot
mislukking gedoem is. In hulle geestelike lewe glo hulle met oortuiging dat
hulle nooit die geestelike groei kan bereik wat God vir hulle bedoel het nie.
Hulle benader die hele lewe vanuit die veronderstelling dat hulle reeds verloor het.
Om te volhard met so 'n swak
selfbeeld beroof jou van die vernuwende
krag wat die liefde van God in jou lewe genereer. As jy aanhou met selfverwyt
oor sonde wat God reeds vergeef het, kan jy nie in sy genesende liefde deel nie.
As jy die vergifnis van God aanvaar en jou verheug in jou
verlossing uit sonde, het jy geen reg om
jouself te veroordeel nie. Jy is 'n verloste kind van jou Hemelse Vader en jy
moet die lewe moedig en met selfvertroue aanvaar. Jy moet verder gaan as
"Ek ellendige mens!" en uitkom by "Aan God die dank! Hy doen dit
(verlos ons) deur Jesus Christus ons Here." As jou selfvertroue op die
manier herstel is en Christus 'n lewende werklikheid in jou lewe word, sal jy
saam met Paulus kan bely: "Maar in al hierdie dinge is ons meer as
oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet" (Rom 8:37). Niks, nie eens 'n
swak selfbeeld kan jou skei van die liefde
van God nie.
Here, in u krag en deur u vergifnis, minag ek
myself nie meer nie, maar verheug my in u verlossing.
No comments:
Post a Comment