Friday, 24 May 2019

Oordenking - Bou vir jou reserwes op


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

BOU VIR JOU RESERWES OP

Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie (Joh 15:4)

Dinamiese Christenskap beteken om van oomblik tot oomblik te leef in 'n wingerdstok-loot-verhouding met Christus.

Dit beteken nie net dat jy totaal van Hom afhanklik is nie, maar ook dat jy steeds besig is om te groei, om dinamies te groei. 'n Dissipel van Christus se lewe is nie staties nie, maar 'n steeds groeiende bewuswor­ding van God. Dit beteken ook dat jy 'n reserwe van geloof het waaruit jy kan put in donker en moeilike dae wat voorlê. Soos die sakeman finansiële reser­wes opbou, moet hulle wat dit erns maak met hulle geestelike lewe, ook geestelike reserwes opbou. As jy soos 'n loot aan 'n wingerdstok in God bly, is jy nie as loot net op jou reserwes aangewys nie, maar kan jterugval op die wingerdstok.

Geen Christen is vrygespreek van tye van depressie nie. Tye wanneer God  ver verwyderd skyn te wees. Om in die tye sekerheid en vertroue te hê, moet jy 'n kragbron hê waaruit jy vryelik kan put. Daarom moet jy in Christus geborge bly soos die loot in die wingerstok, sodat sy krag onbe­lemmerd deur jou kan vloei en jy die vrugte kan dra wat Hy van jou lewe verwag.

Versterk my, o Bron van krag, om my geestelike reserwes op te bou. Leer my om in U te bly, sodat ek sal sterk wees in tye van beproewing.


No comments:

Post a Comment