Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
DIE VRYMOEDIGHEID OM TE GETUIG
Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe (1 Tim 4:7)
'n Mens kan Christus nie in die geheim volg soos
Nikodemus nie. Of die geheim vernietig jou Christenskap of jou Christenskap
vernietig die geheim. Sommige mense is traag om oor hulle geloof te praat.
Hulle godsdienstige oortuigings is so intiem dat
dit selfs vir hulle beste vriende versteek is.
Hiervoor is daar baie redes: Sommige mense is inherent teruggetrokke
of skaam. Of die geselskap waarin jy jou bevind, mag dalk spottend verwys na
enigiets wat met godsdiens te doen het. Die gevaar bestaan miskien dat jy vanweë
jou godsdienstige oortuigings uit sekere groepe uitgesluit sal word.
Entoesiasme oor jou geloof mag jou brandmerk as ongebalanseerd. Gevolglik swyg
jy oor die heel belangrikste aspek van jou lewe.
As
jou geloof vir jou 'n werklikheid is, sal jy dit nie verborge kan hou nie. Jou
lewe sal dit wys. Dit is alleen wanneer 'n persoon se lewe nie ooreenstem met
sy geloofsoortuiging nie, dat hy die feit probeer wegsteek dat hy 'n gelowige
volgeling van Jesus Christus is.
Wanneer
Christus sentraal staan in jou geloof en godsdiensbeoefening en jy bewus is van
jou verbintenis met Hom — soos die loot aan die wingerdstok — is dit nie meer
belangrik wat ander sê of doen nie. Jy weet dat vir jou die lewe Christus is en
jou hoogste ideaal is om Hom te gehoorsaam. Jy sal jou blydskap en opwinding
nie wil wegsteek nie, maar dit liewer met ander wil deel.
Jesus Christus, U is die Bron van al my vreugde. Dankie dat U elke dag
'n lewende werklikheid in my lewe is.
No comments:
Post a Comment