Friday, 16 August 2019

Oordenking - Ons Vader

Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Ons Vader . . .
Ons Vader . . . (Matt 6:9)
Wanneer ons God “Vader” noem, bely ons daarmee die aard van ons geloof; bely ons daarmee dat daar een God is wat sorg.
Die grootste bevryding wat die evangelie vir die heiden gebring het, is die sekerheid dat daar net een God en Vader is. Voorheen was hulle slawe van vyandige en vreesaanjaende gode en geeste. Hulle het natuurverskynsels soos weerlig, donder, reën, vuur en talle ander as gode aanbid. Die kind van God hoef egter nie in vrees te lewe dat hy dalk onwetend teen een van 'n skare vernietigende gode sondig nie. Hy vind gemoedsrus in die wete dat daar maar een ware God is — die God van liefde wat hy “Vader” kan noem.
Wanneer dinge soos gevaar, smart, lyding en dood hom daagliks konfronteer, weet die gelowige dat sy tye in die hand van 'n liefdevolle Vader is. Helmuth Thielicke sê dat die mens se lewe vergelyk kan word met die van 'n kindjie wat deur 'n vreesaanjaende woud wandel; daar is skrikaanjaende geluide, duistere gevare en donker skaduwees. Die mens voel klein en nietig in sy angs en vrees. Hy besef by het Iemand nodig om saam met hom te stap en vir wie Hy kan sê: “Vader”.
Maar ons word nie net geleer om te sê “my Vader” nie, maar “ons Vader”. Nêrens in hierdie gebed kom “ek” of “my” voor nie. Om hierdie gebed te bid, is ook om ons verwantskap met alle mense te erken. Jesus het die selfsugtige “ek” vervang met die liefdevolle en gemeensame “ons”.
Wanneer ons “Ons Vader” bid, weet ons ook dat ons onsself na waarde kan skat, want as God ons goed genoeg geag het om ons sy kinders te noem, durf ons onsself nie minag nie — al het ons soveel swakhede.
In verwondering kniel ons voor U, ons Vader, deur Jesus Christus.

No comments:

Post a Comment