Friday, 23 August 2019

Oordenking - Versoekings en Genade

Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Versoekings en Genade
Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings. (1 Pet 1:6)
Ongelooflik vroeg al word hierdie brief aangehaal as spesifiek deur Petrus geskryf. Jare daarna is daar egter twyfel daaroor gesaai toe aangevoer is dat 'n visserman onmoontlik sulke onoortreflike Grieks soos hierdie sou kon skryf. Petrus is eerlik en sê dat Silvanus eintlik vir hom die brief geskryf het (vgl 1 Pet 5:12). Die gedagtes is dus die van Petrus maar die skryfstyl die van Silvanus.
Petrus skryf sy brief net toe die Christen-vervolging onder Nero begin het. Dit maak die brief so aangrypend: hier praat die warm en bewoë hart van Petrus met medegelowiges wat swaarkry. Ons sleutelvers verwys juis na hierdie “allerhande beproewings” waardeur die egtheid van Petrus se lesers se geloof getoets word. Dit was sekerlik beproewings, maar daar staan letterlik: versoekings (dieselfde woord as in Matt 4) want die beproewing het steeds met die versoeking gepaard gegaan om jou Christenskap te laat vaar. Vir “allerhande” gebruik Petrus die Griekse woord “poikilos”: veelkleurig. Dis ons lot dat ons aan die veelkleurige versoekings van die Bose blootgestel is. As hy nie met die een kleur slaag nie, kom hy met 'n ander. As rooi (eie oordeel) nie werk nie, speel hy met geel (begeerte en geld). As hy nog nie slaag nie, beproef hy ons met sy gewildste kleur: vaal. Dan probeer hy ons geloof en ons lewe vaal, kleurloos, inhoudloos maak. Gevaarlik, hierdie kleuraanvalle op ons.
Maar gelukkig! In sy vierde hoofstuk skilder Petrus die veelvoudige (weer: “poikilos”) genade van God (vgl 4:10). God dek ons te midde van die veelkleurige versoekings met sy veelkleuriger genade. Veelkleurig is die genade van God. Dis soos 'n reënboog heeltemal om ons heen.

No comments:

Post a Comment