Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Vervang die internet ander verhoudings?
Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur die bereik wat gered word, sowel as die wat verlore gaan. 2 Korintiƫrs 2:15
Die internet vervang nooit persoonlike kontak of interpersoonlike verhoudings nie. Maar as ons meen dat betekenisvolle sosiale interaksie onmoontlik is op die internet, begryp ons nie die volle impak van blogs, Facebook, My Space, You Tube, Twitter en kie nie. Of van ons selfoonkultuur nie. En, terloops, volgens 'n onlangse Markinor-ondersoek, besit 80% van alle mense in Suid-Afrika reeds selfone! Nuwe studies vertel dat vele mense eerder hulle harte op Facebook met hulle “vriende” sal deel as met hul biologiese families! Tragies, maar waar! Toegegee, sommige digitale verhoudings is kunsmatig. Ook beleef mense gereeld hoe nuwe verhoudings in die kuberruim ontstaan. Hierdie nuwe beeldryke en verhaalryke media het beperkings, maar dit bied ook fenomenale nuwe moontlikhede tot nuwe konneksies!
Die Here roep my om alle spasies waarbinne ek myself daagliks bevind tot sy eer te vul. Of dit op die internet is, of op 'n bouperseel - ek moet daar aktief aanwesig wees in Jesus se Naam. Of dit langs die sportveld is en of ek in 'n ry staan by die bank - ek is orals aan diens as verteenwoordiger van Christus. Geen spasie waar ek is, is meer of minder belangrik nie. Geen spasie is meer of minder verhoudingsmatig nie. Dit hang van my af met watter inhoud ek dit vul. Dit gaan oor my aktiewe, Christus-aangedrewe impak tussen ander. En dit geld vanaf die digitale werklikheid tot binne die alledaagse werklikheid. Orals moet Christus se eer hoog gehou word. Dit is God se wil.
No comments:
Post a Comment