Thursday, 3 October 2019

Oordenking - Kerk leef

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Kerk leef

Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die ware God dien (1 Tess 1:9).

Onthou jy die heel eerste naam wat aan volgelinge van Jesus toegeken is? Ja, hulle was "mense van die weg". Hulle identiteit was van die aanvang af geleë in hulle onvoorwaardelike liefde vir God en hulle liefdesdiens aan mekaar. Hulle leiers was gewone mense wat die liggaam van Christus met hulle gawes gedien het, nie 'n klomp werkverslaafde skakelbeamptes nie.

In ons dag wonder vele oor die kerk se toekoms. Dalk moet ons eerder vra: Het die toekoms 'n kerk? Wel, op elke plek waar die liefde van Christus gewone mense aanraak en hulle verander in nie-veroordelende, sagte mense, daar dryf hoop! Op elke plek waar mense warm harte het vir God se wêreld, daar wen die regte soort verhoudings.

Godsdiens bring nie per se groei of nuwe lewe nie! Dit bring eerder vrees, skuldgevoelens, 'n kritiese ingesteldheid, kontrole en wettisisme. Waar Christus se genade egter wen, daar wen vryheid en koinonia. Daar word nuwe verhoudings midde-in ons harde samelewings gebou. Daar word aartsvyande vriende. Dinamiese kerke weet hulle is geroep om sulke nuwe verhoudings te gaan bou, nie net om meer persone op kerklike sitplekke te laat beland nie. Hulle weet groei is gelyk aan toegeruste gelowiges waar elkeen 'n voltydse bedienaar van die Woord is. Hulle weet groei vra om die omhelsing van mense wat anders as ons lyk, glo, praat en dink sonder om hulle te veroordeel of in kerklike fotostate te verander. Hulle weet ook groei is betrokkenheid by vraagstukke soos aardverwarming, waterbesoedeling, rassisme en vigs. Kerke wat leef, weet dit gaan oor die herontdekking van Jesus se radikale boodskap van liefde. Hulle weet daar is geen teenvoeter hiervoor in 'n stukkende wêreld nie.

No comments:

Post a Comment