Friday, 18 October 2019

Oordenking - Van monument-bouers tot God se wil-doeners


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.


Van monument-bouers tot God se wil-doeners

Noual ontvang die man wat oes, sy loon en samel Hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. Johannes 4:36

Daar is 'n advertensie wat lui: "No one ever built a monument to a committee!" Toe ek vir 'n paar mense hiervan vertel, sê iemand vir my: "Wel, by ons kerk is daar baie monumente vir komitees." Ja, sinvolle komitees is ook nodig, maar om gedurig te vergader bloot omdat dit op 'n kalender staan, is uit. Die kerk is die familia Dei, die aardse familie van God. Soos in enige gesonde familie kyk hulle mekaar in die oog en vertrou mekaar se woord. Hulle doen die lewe saam; daarom hoef hulle mekaar nie gedurig deur middel van vergaderings en kommissies te kontroleer nie.

'n Groter gevaar agter daardie eindelose vergaderings is dat dit die fokus kan verskuif weg van God se wil en van die noodsaak van nuwe verhoudings. Mense kan ure lank besig wees in sy koninkryk met belangrike sake, maar hulle kan later so sterk be­gin steun op hulle eie goeie finansiële beplanning en deeglike organisasie dat hulle komitees die sleutel tot alle besluite en plan­ne in God se diens word. Dan vergeet hulle God se wil is nie hier­van afhanklik nie. Ja, geloof vra ook om goeie beplanning, maar ten diepste is God se koninkryk 'n geloofsaak wat deur liefdevolle verhoudings en vertroue gebeur. God se wil gaan nie oor al ons planne, agendas en aktiwiteite nie, maar oor hoe ons ons eie agen­das, planne en aksies in Jesus se diens stel! Het jy die verskil op­gemerk? God se wil gaan oor Christus, nie oor sy wil vir ons lewe, ons kerk, ons besigheid of wie nog alles nie. Die enigste vraag wat ons kerk en ons besigheid eintlik moet vra, is hoe ons ons eie agendas ter syde stel om God ter wille te wees. Jesus se kos is ook ons s'n, naamlik om God se wil verhoudingsmatig te doen.


No comments:

Post a Comment