Friday, 11 October 2019

Oordenking -

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Ander is anders, maar God se liefde is dieselfde

Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een. Galasiƫrs 3:28

Op vliegtuie hou ek my neus graag uit ander se besigheid. Maar op 'n dag beland ek langs 'n klomp omgekrapte ouens op pad iewers heen. Hulle het luidkeels rassistiese opmerkings gemaak, tot groot verleentheid van ander passasiers. Maar toe een ou later met sy pelle oor sy kerk begin praat, kon ek nie stilbly nie. "Hoe op aarde kan jy nou oor kerksake praat na al daardie rassistiese taal?" wou ek weet. Toe was die gort gaar. Ek moes woorde aanhoor wat ek nie wil herhaal nie. Was ons nie in 'n vliegtuig nie, het ek met 'n ingeduikte neus opgeskeep gesit.

'n Ruk gelede vra my jongste dogter my hoekom die kerk so min doen om beter menseverhoudings in ons land te vestig. Toe kon ek nie aan 'n sinvolle antwoord dink nie. Om sout op die wonde te gooi, voeg sy toe by dat sy oor die afgelope jare geen preek gehoor het wat verhoudings tussen verskillende volksgroepe vanuit God se Woord belig nie. "Baie preke op Sondae kon net sowel in Alaska of Toronto gelewer gewees het; so werklikheidsvreemd klink dit," het sy bygevoeg.

Sjoe, dit is sleg dat ons elkeen op ons eie eilande bly in Suid-Afrika. Ten spyte van ons almal se belydenisse dat ons in Christus glo, word min hiervan sigbaar. Rassisme wen gedurig bokant Christelike waardes van respek en agting. Nee, ons kan nie almal se beste vriende wees nie. Maar ons geloof moet 'n daadwerklike impak maak op ons interpersoonlike verhoudings. Dit geld vir swart en wit. Wanneer ons bely Jesus is ons Here moet ons besef ons mensgemaakte grense tel veel minder as ons saambindende geloof. Dan moet genesende verhoudings oor alle grense heen wen. Hoe gaan jy dit vandag laat gebeur?

No comments:

Post a Comment