Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Versprei die aangenaamste geur
Maar aan God die dank! Hy voer ons
altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy
die kennis van Christus oral soos 'n aangename geur. (2 Kor. 2:14)
As die atmosfeer
in 'n kamer of huis muf is, gebruik ons lugverfrissers. Volgens Paulus is die
kennis van Christus 'n aangename geur in die wêreld. En wat meer is: God wil
die kennis van Christus deur ons versprei.
'n Mens se
omstandighede vorm jou in 'n groot mate. Dit bepaal die manier waarop jy na
jouself kyk, die manier waarop jou persoonlikheid ontwikkel en die styl waarop
jy situasies gaan hanteer. Uiteindelik sal 'n mens egter nie omstandighede of
ander mense kan blameer vir die manier waarop jy optree en lewe nie. Jy het
self 'n verantwoordelikheid.
Om die
waarheid te sê, jy het nie net 'n verantwoordelikheid teenoor jouself nie. Soos
lugverfrissers is ek en jy instrumente in God se hand om ons omgewing te beïnvloed.
Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos 'n aangename geur.
Dit hou in dat
ek en jy nie in onsself gekeer behoort te wees nie. Ons moet die oop kanale na
buite wees deur wie die vars reuk van die evangelie die omgewing kan bereik.
Hoe vereer die Here ons tog deur ons so te wil gebruik! En wat 'n groot
verantwoordelikheid plaas dit op jou en my. In 'n sekere sin is ons die
vertoonvensters van die Heilige Gees in die wêreld. God se goed word in die
vensters van ons lewe vir wêreldlinge uitgestal om na te kyk.
Moet dan nie
in hierdie dag so groot voor mense staan dat hulle nie die Here kan sien nie.
Moenie die lig op jouself trek of op jou eie verlede nie, maar versprei die
reuk van die evangelie teenoor almal met wie jy vandag in aanraking gaan kom.
Moenie dat die mufheid van jou eie verlede oorwaai en die hele atmosfeer
belemmer nie. Wees 'n lugverfrisser.